HOPEFIELD – Die Phelan Green-groep sê hy het toegelaat dat die oorspronklike Omvangsbepalingsverslag vir die beoogde sonkragprojek by Hopefield verval, omrede dit nie die vlak van besonderhede en volledigheid bevat wat die plaaslike gemeenskap in die dorp benodig om ‘n ingeligte besluit daaroor te neem nie.
Weslander het Phelan Green vir kommentaar genader nadat dit aan die lig gekom het dat die Omvangbepalingsverslag (Scoping Report) vir dié omstrede projek reeds op 24 Augustus vanjaar verval het.
Die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing het by navraag bevestig dat die beplande sonkragaanleg se ingediende aansoek (met verwysingsnommer 14/12/16/3/3/2/2839) wél verval het en dat ‘n nuwe aansoek vir goedkeuring ingedien moet word.

Phelan Green van Kaapstad beplan ‘n reuse-sonplaas én brandstof-verwerkingsaanleg van byna R50-miljard vir die vervaardiging van tonne elektro-volhoubare lugvaartbrandstof (eSAF), wat per pad vanaf Hopefield na die Saldanhahawe vervoer sal word vir uitvoere na onder meer Europese lande.
Hopefield is ‘n plattelandse dorp in die Saldanhabaai Munisipale-gebied (SBM) en is bekend vir sy unieke fynbos, heuningproduksie, toerisme en landbouaktiwiteite. Sommige inwoners en omgewingsaktiviste meen dié Weskuskarakter van die dorp word egter bedreig deur die beoogde nywerheidsontwikkelings vlak buite Hopefield.
Beswaarmakers teen die projek beweer ook al geruime tyd dat plaaslike inwoners en onafhanklike omgewingskenners nie behoorlik geraadpleeg word oor die beplande ontwikkelings nie.
Die omstrede energieprojek sal duisende hektaar bestaande landbougrond beslaan as dit voltooi is terwyl duisende sonpanele bestaande inheemse en bedreigde Weskusplantegroei sal vervang. Die beoogde sonplaas word as die grootste in die land beskryf.
Volgens Anthea Abraham, die kommunikasiehoof van Phelan Green in Kaapstad, is ná deeglike oorweging van die aangeleentheid, toegelaat dat die aansoek om ’n Omgewingsimpakbepaling verval, eerder as om die finale Omvangsbepalingsverslag binne die voorgeskrewe tydperk aan die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing voor te lê. “‘n Nuwe aansoek sal by die Departement ingedien word, vergesel van ‘n bygewerkte en meer omvattende Omvangsbepalingsverslag.”
Phelan Green beplan ook om sy verbintenis met die plaaslike gemeenskap te versterk en ‘n toegewyde projekkantoor in Hopefield te open.
“Die kantoor sal ‘n ruimte wees waar inwoners die projek deur middel van gedetailleerde uitstallings kan verken en toegang tot alle relevante projekinligting kan verkry.
“Almal sal welkom wees om ons te besoek, vrae te stel en hul menings te deel. Ons sien daarna uit om die deure te open en ‘n sterk, langdurige vennootskap met die Hopefield-gemeenskap te bou namate die projek vorder.
“Ons bly ten volle verbind tot die Hopefield-projek en sien uit na die voordele wat dit vir die gebied sal inhou,” sê Abraham.
LEES OOK: Hopefield green hydrogen project reaches investment decision, R10bn funding still to be secured






You must be logged in to post a comment.