Bobbejane langs die paaie om Piketberg is 'n algemene gesig. Foto: Alida Buckle
Bobbejane langs die paaie om Piketberg is ‘n algemene gesig. Foto: Alida Buckle

Bobbejaan in Piketberg-huis geskiet nadat hy vasgekeer is


PIKETBERG – ’n Bobbejaan wat Donderdag 1 Oktober ’n huis in Starkingstraat, Piketberg, binnegegaan en homself daar vasgekeer het, is van kant gemaak deur ‘n doodskoot.

Video’s van die voorval is oral op sosiale media versprei.

Volgens Matthew Sheldon, woordvoerder van die Bergrivier-munisipaliteit, het die munisipaliteit se wetstoepassingseenheid op die toneel gereageer nadat die bobbejaan ’n woongebied binnegegaan het.

Die gemeenskap het op Donderdag 1 September kom kyk wat die bobbejaanmannetjie maak. SKERMSKOOT: Praat Saam Piketberg
Die gemeenskap het op Donderdag 1 September kom kyk wat die bobbejaanmannetjie maak. SKERMSKOOT: Praat Saam Piketberg

Luke Folb, woordvoerder van CapeNature, sê die bobbejaan was ’n alleenlopende mannetjie.

“Manlike bobbejane word gewoonlik uit die trop verjaag wanneer ’n nuwe dominante mannetjie oorneem en die vorige dominante mannetjie moet vertrek, of wanneer jong mannetjies volwassenheid bereik en ’n bedreiging vir die dominante mannetjie word,” sê Folb.

“Manlike bobbejane is oor die algemeen uiters sterk en kan ernstige beserings veroorsaak.”

Volgens Folb moet alleenlopende mannetjies die trop se gebied verlaat en beland hulle dikwels in gebiede waar hulle met mense in konflik kom. “In hierdie situasies kan hulle baie aggressief raak in hul poging om kos te kry en dit is bekend dat hulle kos van mense neem,” sê hy.

Wanneer ’n bobbejaan in ’n huis vasgekeer word, kan dit volgens Folb aggressief raak omdat die dier homself probeer beskerm en daar dikwels geen duidelike ontsnaproete is nie.

Folb sê dit kan ook gevaarlik wees om ’n vasgekeerde bobbejaan te probeer verdoof. “Die verdowing van ’n vasgekeerde bobbejaan word uiters gevaarlik vir die persoon wat die verdowingspyl afvuur en vir omstanders, omdat die bobbejaan bedreig voel,” sê hy.

“Dit is dikwels, met die veiligheid van personeel en lede van die publiek in gedagte, die beste opsie om ’n vasgekeerde bobbejaan te laat uitsit.”

Sheldon sê die munisipaliteit beskik oor ’n permit van CapeNature wat hom magtig om diere in die gebied te beheer.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 1 October 2026
    Weslander E-Edition – 1 October 2026

Gift this article