‘n Verjaarsdag wat ‘n viering moes wees, het in hartseer geëindig toe twee mense verlede Maandag (6 Julie) in die vroeë oggendure hul lewe in ‘n motorongeluk op die R44 naby Piketberg verloor het.
Die tragedie het Sondag omstreeks 00:30 ná die partytjie gebeur.
Volgens kapt. Tania Helfrich, distrikswoordvoerder vir die Weskus-polisie, is vier mense in die voorval beseer.
Die oorledenes is Gertram Brink (38) en Nadia Dirks (42).

Dit blyk die Nissan X-Trail waarin hulle in die rigting van Piketberg gereis het, het gerol.
Wat die voorval nog hartseerder maak, is dat die tragedie op Brink se verjaarsdag gebeur het.
Volgens Brink se jare lange meisie, Veronica Britz, word vermoed die voertuig het gruis getref, wat dit laat gly het.
Britz beskryf Brink as ‘n liefdevolle en passievolle mens, met ‘n liefde vir sy werk.
“Hy het ‘n groot hart gehad en het baie vir mense omgegee. Hy was ook baie vrywillig om te gee. Wat vir my die meeste uitstaan, is dat hy altyd seker gemaak het dat ek en ons dogter altyd versorg was. Toe ek die nuus hoor, is ek na die toneel toe, en al wat ek wou weet is waar Gertram is. Niemand wou iets sê nie en dit het my laat besef hy is oorlede.”
Ray van Rooy, die burgemeester van die Bergrivier-munisipaliteit, deel sy innige meegevoel aan al die families. “Ons gebed is dat die Here hulle as familie deur hierdie herstelproses sal dra, hul wonde sal genees en hul trane sal afdroog. Ons bid dat alles goed sal verloop met die reëlings vir die begrafnis. Wat die beseerdes betref, bid ons ook dat die Here hulle sal beskerm, bewaar en volkome genees, sodat hulle weer hul normale lewens kan hervat. Ons laat dit alles in die Here se hande.”
Van Rooy onthou Brink as ‘n kranige krieketspeler van Piketberg se krieketklub en een van hul beste spelers. “Hy het ‘n groot naam vir homself in die klub gemaak en het ook ‘n belangrike rol in die ontwikkeling en leiding van jongmense vervul. Hy sal met groot waardering onthou word,” voeg Van Rooy by.
Piketberg-krieketklub het op Facebook hul innige meegevoel aan die familie, vriende en geliefdes van Gertram betuig. “Brink was meer as net ‘n krieketspeler; hy was ‘n vriend, spanmaat, kaptein en inspirasie vir baie. Van jongs af, toe hy by die klub aangesluit het, was dit duidelik dat hy bestem was vir groot dinge op die krieketveld. Mag sy siel in vrede rus en mag die Brink-familie krag vind in die liefde en ondersteuning van die krieketgemeenskap. Sy bydrae tot die spel en ons krieketgemeenskap sal nooit vergeet word nie.”
•Teen druktyd kon Weslander nie die Dirks se familie in die hande kry nie.




