Wat begin het as ‘n eenvoudige “Hallouw!” op sosiale media, het vinnig ontwikkel tot een van die mees herkenbare frases op Afrikaanse TikTok.

Emily de Graaf, beter ­bekend as Emily in SA, het die afgelope jaar ‘n sterk aanhang opgebou met haar eer­like, ongefilterde en skreeu­snaakse kyk op die alledaagse lewe. Sy het met haar unieke humor, herkenbare stories en vars benadering tot komedie al duisende Suid-Afrikaners laat lag en hulself in haar stories laat herken.

Nou neem sy haar aanlyn sukses na die verhoog met haar eerste eenvrou-komedie­stuk, Hallouw 30!, op Sondag 12 Julie om 12:00 na Die Koelkamers (kaartjies by diekoelkamers.com).

Sy het onlangs haar buiging met dié produksie by die Centurion-teater gemaak, waar kaartjies uitverkoop was en gehore met staande applous en groot lof reageer het. Die sukses van dié eerste vertoning het tot verskeie nuwe datums landwyd gelei.

Hallouw 30! is ‘n eerlike en humoristiese kykie na die werklikheid om 30 te word. Van dating-rampe en skoonheidsbehandelings tot familieverwagtinge, werkstres en die skok wanneer jongmense jou begin “Tannie” noem – Emily deel haar ervarings met selfspot, warmte en haar unieke sin vir humor.

“Ek dink mense hou daarvan omdat dit eg is. Ek vertel stories waarin mense hulself herken en saam kan lag. Die lewe is soms chaos, maar dit gee ons ook die beste materiaal,” sê Emily.

Met haar vinnig groeiende aanlyn teenwoordigheid en toenemende gewildheid op die verhoog, word Emily reeds deur baie beskou as een van die nuwe stemme in Afrikaanse komedie om dop te hou.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article