Weslander verskaf weekliks ‘n kort blik op die vorige week se misdaadgebeure in sy verspreidingsgebied met behulp van kapt. Tania Helfrich, ‘n distrikswoordvoerder vir die Weskus-polisie:
Diefstal van vee: Gerhard Saulus (35) en Piet Janse (30) is Sondagnag (18 Oktober) deur lede van die Moorreesburg-plaaswag op die Gouda-pad voorgekeer. Saulus en Janse se klere was vol bloed en die twee het die plek gaan uitwys waar hulle ‘n skaap ter waarde van R4 000 geslag het. Die twee het Woensdag in die hof verskyn.
Diefstal: Tussen Woensdagnag en Donderdagoggend verlede week het drie mans tussen 37 en 42 jaar oud diesel op ‘n plaas in die Darling-omgewing gesteel. Dié drie het Maandag (19 Oktober) in die Darling- periodieke hof verskyn. Dit is tans nog nie bekend hoeveel rand se diesel hulle gesteel het nie.
Huisbraak: Waleeto Dirks (21) van Moorreesburg het Maandag (19 Oktober) in die hof verskyn nadat hy Saterdagaand by ‘n huis ingebreek het. Hy het sy pet op die toneel vergeet.
Huisbraak: Jason Davids (19) van Hopefield is aangekeer nadat hy Vrydagoggend (16 Oktober) in ‘n 62-jarige vrou se motorhuis betrap is. Sy hofverskyning was ook die afgelope Maandag.
Bedrog: ‘n Vrou (71) van Laaiplek het in Oktober sowat R34 000 vir twee “e-bikes” aan ‘n aanlyn maatskappy betaal. Met navraag oor die afleweringsdatum het die klaer nie weer van die maatskappy gehoor nie. Nóg ‘n bejaarde vrou van Laaiplek (65 jaar oud) het op haar beurt R11 880 vir ‘n Yorkie-hondjie betaal en kon sedert die transaksie deurgegaan het, glad nie weer die “verkopers” in die hande kry nie.
Bedrog: ‘n Vrou (47) van Lambertsbaai het ongeveer R21 500 oor ‘n tydperk van ‘n paar maande aan ‘n man betaal wat haar geld na bewering sou “belê” het. Van die ander beleggers het hul geld teruggekry, maar dié vrou was nie so gelukkig nie. Sy het nou ‘n klagte van diefstal aangemeld.
Bedrog: ‘n Sakeonderneming in Lambertsbaai het tussen September en Oktober R5 823 300 vir diesel oorbetaal. Ná vele versoeke is ‘n bedrogklagte verlede Vrydag 16 Oktober aangemeld nadat drie vragte diesel ter waarde van R2 914 650 nog nie afgelewer is nie.
Poging tot moord: Twee Mosambiekse burgers, 22 en 32 jaar oud, is Donderdagaand 15 Oktober omstreeks 20:45 in Platinastraat, George Kerridge, Vredenburg, geskiet. Die 22-jarige man is in sy linkerskouer en onder sy arm gewond, terwyl die tweede slagoffer in sy bene en arm gewond is. Die motief vir die skietery word ondersoek.
Moord: Die liggaam van ‘n onbekende man, met ‘n skietwond in sy bors, is Saterdagoggend (17 Oktober) om 04:00 in Empolwenistraat in Riverview, Citrusdal, gevind. ‘n 15-jarige seun het Maandag op aanklag van moord in die hof verskyn.
Moord: Ntja Ramarou (25), ‘n Lesotho-burger, se liggaam is Sondagoggend (18 Oktober) omstreeks 04:30 dood in Vicky Zimrystraat in Riverview, Citrusdal, met ‘n skietwond in die kop gevind. Die polisie ondersoek die saak.
Moord: Deem Tshetshe (32) het Saterdagoggend (17 Oktober) saam met ‘n vriend in Eyethustraat in Ilinge Lethu, Malmesbury, geloop waar hulle Lwando Mbizweni (31) teëgekom het. Volgens die vriend het hulle ‘n alledaagse gesprek gehad, waarop Mbizweni na bewering ‘n mes uitgehaal en Tshetshe in die bors gesteek het. Hy het hierna weggehardloop. Die slagoffer is op die toneel dood en Mbizweni het Maandag in die hof verskyn.
Sakerooftog: ‘n Ethiopiese winkelier (29) het Vrydagaand om 21:30 na uitgegaan om sy winkel in George Kerridge, Vredenburg, van buite te sluit. Twee onbekende mans het hom genader en hom met ‘n vuurwapen gedreig. Die rowers het die klaer beveel om nie die veiligheidsdeur te sluit nie, maar die klaer het daarin geslaag om terug in die winkel te gaan en die deur te sluit. Die rowers het die deur afgebreek en twee ander rowers het ook die winkel betree. Die klaer is met die vuurwapen geslaan en met ‘n mes in die kop gesteek. Die rowers het met onder andere twee selfone, kruideniersware, R4 000 en sigarette – alles ter waarde van amper R26 000 – gevlug.
Voertuigkaping: Gershwin Raubenheimer (37) en Malcolm Sauls (39), albei van Vredenburg, het verlede Woensdagaand (14 Oktober) omstreeks 22:00 na bewering ‘n Zimbabwiese burger (30) by die Puma-garage op die Weskuspad (R27) naby Darling voorgekeer en met ‘n vuurwapen gedreig. Die vermeende rowers het met die klaer se Volkswagen Caddy weggery. Dié Caddy is die volgende oggend by Sauls se woning in Louwville gekry. Beide het Vrydag in die Vredenburg-landdroshof verskyn en sal komende Woensdag weer vir die besit van die gesteelde voertuig verskyn.
Diefstal van vee: Altesaam 38 skape is tussen 29 September en 9 Oktober deur honde op ‘n plaas in die Doringbaai-omgewing doodgebyt.
LEES OOK: ‘Inwoners moet misdaad beveg’




