Weslander verskaf weekliks ‘n kort oorsig op die vorige week se misdaadgebeure in sy verspreidingsgebied met behulp van kapt. Tania Helfrich, die distrikswoord­voerder van die Weskus-polisie.

Aanranding: ‘n 51-jarige vrou van Laaiplek het haar regterheup op Sondag 25 Oktober beseer en haar regterbeen gebreek tydens ‘n onderonsie oor ‘n kas bier. ‘n 17-jarige het na bewering eers haar seun aangerand en haar daarna met die kas bier gegooi.

Strafbare mansslag: Die ongeluk waarin die 67-jarige Dirkie Bester Saterdagmiddag 7 November omstreeks 17:30 dood is, word ondersoek. Die ongeluk het op ‘n grondpad by Koringbergpad buite Hopefield plaasgevind. Die wit Datsun waarin Bester gery het, het op sy dak beland.

Inbraak: Tussen Donderdagaand 5 November en Vrydagoggend 6 November is by ‘n sakeperseel in Jakarandastraat in Nuwerus ingebreek. Altesaam 17 pakkies sigarette en R1 000 is gesteel.

Diefstal: ‘n 36-jarige man het op Vrydag 6 November tussen 13:15 en 14:10 ‘n winkel in Linkstraat in Lambertsbaai gesluit en vir middagete gegaan. Met sy terugkeer het hy ontdek dat sigarette gesteel is. Die verdagte is op videomateriaal uitgeken.

Veediefstal: Marshal Strauss (29) en Gustav Meyer (39) het Maandag (9 November) in die hof verskyn nadat hulle na bewering tussen Dinsdag 3 November en Woensdag 4 November twee skape op ‘n plaas in die Clanwilliam-omgewing gesteel het.

Onwettige besit van inheemse plante: Marquin Olivier (23), Axzaino Bock (23) en Andile Sobhede het Maandag (9 November) in die hof verskyn nadat hulle Vrydagaand 6 November in Van Riebeeckstraat in Vanrhynsdorp voorgekeer is. Die polisie het inligting ontvang dat hulle 42 skurwejantjies sonder die nodige permit vervoer. Die plante is in die voertuig gevind en die polisie het daarop beslag gelê. Al drie verdagtes is van die Noord-Kaap.

Aanranding: Raulville Beukes (25) het Saterdag­aand 7 November in Vanrhynsdorp na bewering so oproerig geraak dat die polisie se hulp weens gesinsgeweld ingeroep is. Met hul aankoms het Beukes die betrokkenes gevloek en geskel. Hy het ook ‘n polisiebeampte tydens sy inhegtenisneming beseer. Hy het Maandag (9 November) in die hof verskyn.

LEES OOK: Waarom word hofsake uitgestel? Só werk die strafregproses

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 November 2026
    Weslander E-Edition – 12 November 2026

Gift this article