Waarom word ’n hofsaak telkens uitgestel? Waarom neem dit soms maande of selfs jare voordat ’n strafsaak afgehandel word? En waarom word beskuldigdes soms verskeie kere in die hof gebring sonder dat die verhoor begin?
Dit is vrae wat gereeld deur lesers aan Weslander gestel word, veral wanneer sake wat groot belangstelling in die gemeenskap wek, herhaaldelik uitgestel word.
Hoewel dit vir die publiek kan voorkom asof sake sloer of daar geen vordering is nie, verloop strafsake ingevolge ’n vaste regsproses. Daar is verskeie stappe wat gevolg moet word voordat ’n saak tot ’n verhoor en uiteindelik ’n uitspraak en vonnis kan lei.
Hier is ’n verduideliking van hoe die strafregproses werk en waarom uitstelle deel daarvan kan wees.
Van ondersoek tot inhegtenisneming
Wanneer ’n misdaad by die polisie aangemeld word, word ’n polisiedossier geopen. Dit bevat onder meer getuieverklarings, verklarings van klaers, ondersoeknotas en ander inligting wat tydens die ondersoek ingesamel word.
Die polisie moet genoegsame getuienis versamel om die saak aan die nasionale vervolgingsgesag (NVG) voor te lê. Die NVG besluit dan of daar voldoende gronde is om met vervolging voort te gaan.
Die ondersoek eindig ook nie noodwendig wanneer iemand in hegtenis geneem word nie. Nuwe getuienis kan steeds ingesamel word en forensiese ondersoeke kan verdere tyd verg.
Die eerste verskyning en borgtog
Nadat iemand in hegtenis geneem is, moet die persoon binne 48 uur in ’n landdroshof verskyn, met inagneming van die wetlike bepalings oor naweke en openbare vakansiedae.
Tydens die eerste verskyning word die aanklagte aan die beskuldigde gestel en word die verdere verloop van die saak bepaal.
Indien die beskuldigde om borgtog aansoek doen, moet die hof verskeie faktore oorweeg voordat ’n beslissing geneem word. Dit kan onder meer die erns van die aanklagte, die moontlikheid dat die beskuldigde sal vlug, inmeng met getuies of die ondersoek belemmer, insluit.
Die staat kan borgtog teenstaan en die verdediging kan argumente ten gunste daarvan aanvoer. Die hof moet al die tersaaklike inligting oorweeg voordat ’n besluit geneem word.
’n Borgtogaansoek kan meer as een hofverskyning vereis, veral wanneer verdere inligting of getuienis nodig is voordat die hof ’n beslissing kan maak.
Waarom word sake uitgestel?
Daar is verskeie redes waarom ’n strafsaak nie op die verwagte datum voortgaan nie.
Dit sluit onder meer in:
- Die staat wag nog op forensiese verslae of ander deskundige getuienis.
- Verdere ondersoekwerk moet afgehandel word.
- Die verdediging wag op dokumente of getuienis wat nodig is om die saak voor te berei.
- ’n Beskuldigde benodig regsverteenwoordiging of moet tyd kry om ’n regsverteenwoordiger te bekom.
- ’n Getuie of deskundige is nie beskikbaar om te getuig nie.
- Die hof se beskikbare tyd of hofrol laat nie toe dat die saak op daardie dag voortgaan nie.
- Die beskuldigde moet vir ’n psigiatriese waarneming of ander deskundige evaluering verwys word.
’n Uitstel beteken dus nie noodwendig dat die saak nie vorder nie. Dit kan beteken dat ’n bepaalde stap in die regsproses nog afgehandel moet word.
Die hof moet egter toesien dat sake binne ’n redelike tyd afgehandel word en dat die regte van sowel die beskuldigde as die klaer en ander betrokkenes in ag geneem word.
Die verskillende stadiums van ’n strafverhoor
Wanneer die nodige voorbereidings afgehandel is, kan die verhoor begin.
Die beskuldigde word gevra om skuldig of onskuldig op die aanklagte te pleit.
Indien ’n beskuldigde skuldig pleit, moet die hof steeds vasstel of hy of sy die feite en besonderhede van die aanklag erken. Die landdros kan die beskuldigde hieroor uitvra voordat ’n skuldigbevinding aangeteken word. Indien die hof tevrede is dat die beskuldigde skuldig is, volg vonnisoplegging.
Die staat en verdediging kan steeds vertoë oor ’n gepaste vonnis rig. Indien die hof nie tevrede is met die beskuldigde se antwoorde nie, kan ’n pleit van onskuldig aangeteken word en die saak as ’n verhoor voortgaan.
Indien die beskuldigde onskuldig pleit, moet die staat sy saak bewys. Die aanklaer lei getuienis en roep staatsgetuies om te getuig.
Die verdediging kry die geleentheid om elke staatsgetuie te kruisondervra. Dit stel die verdediging in staat om die getuienis te toets en moontlike teenstrydighede of onduidelikhede uit te wys.
Nadat die staat sy saak gesluit het, kan die verdediging besluit of hy getuienis wil aanbied. Die beskuldigde is nie verplig om self te getuig nie.
Die hof oorweeg uiteindelik al die getuienis en moet bepaal of die staat die beskuldigde se skuld bo redelike twyfel bewys het.
Uitspraak en vonnis
Indien die beskuldigde skuldig bevind word, volg die vonnisoplegging. Indien die beskuldigde onskuldig bevind word, word hy of sy vrygespreek.
Voor vonnisoplegging kan die hof verdere verslae aanvra, byvoorbeeld ’n voorvonnisverslag, of getuienis oor die beskuldigde se persoonlike omstandighede aanhoor.
Die staat en verdediging kan ook argumente oor ’n gepaste vonnis aanvoer.
By die bepaling van ’n gepaste vonnis moet die hof onder meer die erns van die misdaad, die belange van die gemeenskap en die persoonlike omstandighede van die beskuldigde in ag neem.
’n Uitstel is nie dieselfde as ’n terugtrekking nie
Dit is belangrik om tussen ’n uitgestelde saak en ’n teruggetrekte saak te onderskei.
Wanneer ’n saak uitgestel word, bly die aanklagte teen die beskuldigde van krag en word die saak op ’n latere datum voortgesit.
Wanneer ’n saak teruggetrek word, beteken dit dat die vervolging op daardie stadium nie voortgaan nie. Dit beteken egter nie noodwendig dat die saak nooit weer ingestel kan word nie.
Die strafregproses bestaan uit verskeie stappe wat elk tyd kan verg. Hoewel herhaalde uitstelle vir die publiek frustrerend kan wees, moet die hof toesien dat die saak behoorlik voorberei en volgens die reg afgehandel word.
Bykomende bronne: Sarisa Swanepoel Prokureurs; Prokureur.co.za; LawLibrary.org.za.



