PRETORIA – Solidariteit het ʼn saak in die Pretoriase hooggeregshof teen die minister van handel, nywerheid en mededinging se raskwotas vir die regsberoepe gewen.
Die raskodes is ongeldig verklaar, en die minister moet Solidariteit se regskoste betaal. Verskeie groot regsfirmas was saam met Solidariteit mede-applikante in die saak.
Volgens dr. Dirk Hermann, uitvoerende hoof van Solidariteit is die uitspraak ʼn reuse-oorwinning oor die regering se roekelose rassebeleid.
Solidariteit beskou die sektorkodes, wat in September 2024 uitgevaardig is, as rastelkaarte vir die werkplek, met verreikende implikasies vir regsfirmas van alle groottes.
LEES OOK: Pato 10-hofsaak: Saak uitgestel tot Maart 2027
Een van die mees omstrede wysigings, volgens Hermann, was die verlaging van die drempel vir vrygestelde ondernemings tot ʼn jaarlikse omset van minder as R5 miljoen. Dit het beteken dat selfs kleiner firmas aan streng vereistes sou moes voldoen.
Moet bastion van gelykheid wees
Solidariteit het aangevoer dat die sektorkodes onwettig, irrasioneel en ongrondwetlik is. Volgens Solidariteit ondermyn die rasseteikens nie net die onafhanklikheid van die regsberoep nie, maar plaas dit ook ʼn onrealistiese administratiewe en finansiële las op regspraktisyns.
“Die regsberoep behoort juis die bastion van gelykheid voor die reg te wees. Hierdie sogenaamde sektorteikens stel ras egter bo meriete en bedreig die onafhanklikheid van die beroep,” sê Anton van der Bijl, adjunkbestuurshoof en hoof van regsake by Solidariteit.
LEES OOK: Amerikaanse ambassadeur kry praktiese kykie na AfriForum se veiligheidsnetwerk
Solidariteit het ook aangevoer dat die openbare konsultasieproses gebrekkig was. Volgens Van der Bijl was 76% van die kommentaar wat ingedien is teen die kodes gekant, maar dié kommentaar is bloot geïgnoreer.
Volgens Van der Bijl het die hof bevind dat die minister se besluit om die kodes uit te vaardig irrasioneel was en dat hy nie aan die statutêre en grondwetlike vereistes voldoen het nie. Die kodes is dus met koste tersyde gestel.
Sien die uitspraak hier aangeheg.
LEES OOK: Hof kap Noord-Kaapse munisipaliteit en dorpsbestuurder oor ‘kwaadwillige’ afdanking






