Raymond Hohls en Kallie Kriel van Afriforum saam met die Amerikaanse ambassadeur L. Brent Bozell III.
Raymond Hohls en Kallie Kriel van AfriForum saam met die Amerikaanse ambassadeur L. Brent Bozell III tydens sy besoek aan die organisasie se sentrum in Centurion.

Amerikaanse ambassadeur kry praktiese kykie na AfriForum se veiligheidsnetwerk

Raymond Hohls en Kallie Kriel van Afriforum saam met die Amerikaanse ambassadeur L. Brent Bozell III.
Raymond Hohls en Kallie Kriel van AfriForum saam met die Amerikaanse ambassadeur L. Brent Bozell III tydens sy besoek aan die organisasie se sentrum in Centurion.

CENTURION – Die Amerikaanse ambassadeur in Suid-Afrika, L. Brent Bozell III, het gister ‘n uitgebreide demonstrasie gekry van hoe AfriForum se gemeenskapsveiligheidstrukture werk tydens ‘n besoek aan die organisasie se sentrum in Centurion.

Die ambassadeur is deur senior lede van die organisasie gewys hoe tegnologie-gedrewe beheerkamers, plaaswagte en buurtwagte saamwerk om plaasmoorde en ander misdaad in landelike en stedelike gebiede te bekamp.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, en Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het ambassadeur Bozell ontvang. Senior lede van AfriForum se afdeling vir gemeenskapsveiligheid het aanbiedings gemaak oor die verskillende komponente van die organisasie se strategie teen misdaad.

AfriForum demonstreer sy veiligheidsplan
Die Amerikaanse ambassadeur het ‘n praktiese demonstrasie gekry van AfriForum se veiligheidsnetwerk, tegnologie en beheerkamers in Centurion.

Veiligheidsplan in aksie

Tydens die besoek het AfriForum aan die ambassadeur gedemonstreer hoe die organisasie se veiligheidsvoorstel aan die regering in die praktyk geïmplementeer kan word.

Die organisasie het sy landwye netwerk van 178 buurt- en plaaswagte ten toon gestel, asook gespesialiseerde reaksiespanne teen misdaad, ‘n traumaeenheid wat slagoffers van misdaad bystaan, ‘n rampbestuursentrum en opleidingskursusse.

Tegnologiese hulpbronne soos paniekknoppies, hommeltuie, kommunikasiestelsels, kameranetwerke en misdaadanalise-sagteware is ook aan ambassadeur Bozell gewys.

Die ambassadeur is na AfriForum se beheerkamer geneem waar hy kon sien hoe tegnologie as magvermenigvuldiger gebruik word om plaaslike gemeenskapsveiligheidstrukture, privaat sekuriteitsmaatskappye en die polisie te ondersteun deur monitering, die koördinering van reaksies en die ontplooiing van hulpbronne tydens noodgevalle.

Hy het ook die vertrek van tientalle buurtwagvoertuie vanaf die sentrum aanskou met die afskop van ‘n gemeenskapspatrollie.

Dispuut tussen SA en VSA

Ambassadeur Bozell se besoek kom te midde van AfriForum se pogings om die dispuut tussen Suid-Afrika en die VSA oor plaasmoorde en landelike veiligheid op te los deur met praktiese voorstelle vorendag te kom.

AfriForum het onlangs ‘n omvattende veiligheidsvoorstel aan die Suid-Afrikaanse regering gemaak waarin gewys word hoe gemeenskapsveiligheidstrukture binne die raamwerk van die wet en in samewerking met die polisie, privaat sekuriteitsmaatskappye en ander veiligheidsrolspelers kan optree om die land se misdaadkrisis gekoördineerd te takel deur ‘n openbare-gemeenskapsvennootskap.

“AfriForum bly daarop gefokus om, in die belang van die land en sy mense, ‘n konstruktiewe rol te speel om te help om die geskil tussen die VSA en Suid-Afrika oor plaasmoorde en landelike veiligheid op te los,” sê Kriel.

“Indien die Suid-Afrikaanse regering positief reageer op AfriForum se voorstel vir ‘n openbare-gemeenskapsvennootskap om misdaad te bekamp, sal dit die stryd teen misdaad in die belang van almal in die land versterk. AfriForum glo ook dat dit ‘n positiewe bydrae sal maak om te help om Amerikaanse kommer oor plaasmoorde en ander misdaad die hoof te bied.”

Die veiligheidsvoorstel sluit onder meer in die instelling van ‘n staande werkkomitee tussen AfriForum en die polisie wat daarop sal fokus om relevante veiligheidsrolspelers by ‘n gekoördineerde strategie teen misdaad te betrek.

Die veiligheidsplan is voorts daarop gerig om veiliger omstandighede in die land te skep sodat mense dit nie nodig ag om die land te verlaat nie.

LEES OOK: Verslag wys patroon van marteling tydens plaasaanvalle

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article