Hof kap Noord-Kaapse munisipaliteit en dorpsbestuurder oor ‘kwaadwillige’ afdanking

Hofsake

Hof kap Noord-Kaapse munisipaliteit en dorpsbestuurder oor ‘kwaadwillige’ afdanking


KIMBERLEY – Die hooggeregshof in Kimberley het die Kgatelopele-munisipaliteit in Daniëlskuil en sy dorpsbestuurder se aansoek om verlof tot appèl van die hand gewys nadat die hof bevind het die munisipaliteit volhard met die onregverdige behandeling van ‘n geskorsde direkteur.

In die nuutste uitspraak van 25 September het regter Almé Stanton met regter Mpho Mamosebo wat saamgestem het, bevind die munisipaliteit, speaker, burgemeester en die dorpsbestuurder, Willie Blundin, het geen redelike vooruitsigte met sukses op appèlaansoek nie.

Die appèlaansoek spruit uit die munisipaliteit se verset teen ‘n wysigingsbevel wat op 16 Januarie vanjaar toegestaan is. Die munisipaliteit en sy amptenare het gepoog om te appelleer teen die bevel wat bepaal dat Benjamin Sehole in sy pos as direkteur: tegniese infrastruktuur en gemeenskapsdienste, tesame met agterstallige salaris van R1 098 817,32, plus rente en regskostes, heraangestel word.

Regter Stanton het bevind die gronde van appèl wat deur die munisipaliteit geopper is, is regtens en feitelik sonder verdienste. Die hof het die aansoek om verlof tot appèl van die hand gewys en die munisipaliteit en sy amptenare beveel om die regskostes te betaal.

Die Kgatelopele-munisipaliteit se dorpsbestuurder, Willie Blundin.
Die Kgatelopele-munisipaliteit se dorpsbestuurder, Willie Blundin. FOTO: Kgatelopele.gov.za

Die hof het homself weerhou om die gepaste bestraffende kostebevel uit te reik omdat dit ‘n onnodige finansiële las op openbare staatshulpbronne plaas.

‘n Kernaspek van die hof se bevindinge is die “kwaadwillige” optrede van Blundin.

In die hersieningsuitspraak is reeds bevind Blundin se optrede om Sehole se dienste te beëindig is “kwaadwillig en ‘n onwettige uitoefening van openbare mag”.

Regter Stanton meen die geskiedenis van die saak bewys die munisipaliteit het aangehou om Sehole onregverdig te behandel. Die regstryd strek oor meer as drie jaar.

LEES OOK: Daniëlskuil-dorpsbestuurder moet direkteur weer aanstel

Diensbeëindiging nie gemagtig nie

Sehole is op ‘n vyfjaar-kontrak, van 3 Januarie 2023 tot 31 Desember 2027, aangestel. Op 31 Augustus 2023 is Sehole se dienste beëindig en ongemagtigde salarisaftrekkings gemaak.

Die hof het in ʼn hersieningsaansoek in Julie 2024 bevind Blundin was nie gemagtig om Sehole se dienste te beëindig nie. Die beëindiging is as ongrondwetlik en ongeldig verklaar en ter syde gestel, en die munisipaliteit is beveel om Sehole in sy pos te herstel.

Nadat die munisipaliteit geweier het om Sehole se agterstallige salaris vir die 12 maande van sy onwettige afdanking te betaal, het Sehole weer die hof in Januarie vanjaar genader. Die hof het die oorspronklike bevel gewysig om die presiese bedrag van R1 098 817,32 vir agterstallige vergoeding vir die periode 1 September 2023 tot 5 September 2024 in te sluit. Hy moet heraangestel word.

Geldsake van munisipaliteit ‘kommerwekkend’ sê OG

Onder Blundin as dorpsbestuurder en verantwoordbare beampte is die munisipaliteit se geldsake volgens die jongste ouditverslag van 2014-’25 van die Ouditeur-Generaal (OG) kommerwekkend.

Die OG meen daar is ‘n ernstige gebrek aan personeel en leierskap. Aan die einde van die finansiële jaar was meer as ‘n derde (36%) van al die poste vakant. Sowat 75% van die senior bestuursposte was ongevul, terwyl meer as ‘n kwart van die poste in die finansiële afdeling ook vakant was.

Die munisipaliteit het ‘n gekwalifiseerde ouditmening op sy jaarlikse finansiële state ontvang en die OG-verslag toon die munisipaliteit se finansiële boeke is in ‘n warboel. Die munisipaliteit kon nie vir die ouditeure duidelike en betroubare dokumente gee oor hoeveel hul bates werd is nie, hoeveel geld inwoners hulle skuld, of wat hulle aan hul eie verskaffers skuld nie. Omdat die getalle op dokumente nie gestaaf kon word nie, kon die OG nie die munisipaliteit se finansiële state as betroubaar goedkeur nie.

Min geld word op infrastruktuur en onderhoud bestee. Kgatelopele het meer as 10% van hul infrastruktuursubsidies – staatsubsidies wat bedoel is om dorpsgeriewe te bou en te verbeter – nie bestee nie. Daarbenewens het die munisipaliteit R4,69 miljoen aan die herstel en onderhoud van hul bates bestee. Dit is ‘n 0,8% van die bates se totale waarde, terwyl Nasionale Tesourie vereis dat minstens 8% aan onderhoud bestee moet word om te verhoed dat infrastruktuur verval.

Om vir die tekort aan vaardighede en personeel te vergoed, het Kgatelopele R1,56 miljoen vir private konsultante betaal om te help om finansiële state op te stel, maar dit het nie die probleme opgelos nie. Hoewel die dorpsbestuurder vir 35 maande en die hoof finansiële beampte reeds 26 maande in hul poste was, moes die munisipaliteit op konsultante steun.

Vereiste wetlike regulasies word nie nagekom nie, en daaglikse kontroles oor geld en papierwerk word verwaarloos, het die OG bevind.

LEES OOK: Court exposes ‘self-created urgency’ in Ga-Segonyana’s irregular tender award

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article