Die ANC in die Frances Baard-streek het die Noord-Kaapse provinsiale regering, veral die Departement van Samewerkende Regering, Menslike Nedersettings en Tradisionele Sake (Coghsta), versoek om onmiddellike stabiliteit by die Sol Plaatje-munisipaliteit in Kimberley af te dwing.
Hul verklaring volg op die ANC Speaker, Dipuo Peters, se mislukte dringende interdikaansoek Vrydag 17 April in die hooggeregshof in Kimberley om ’n virtuele spesiale raadsvergadering te stuit. Die meerderheid opposisieraadslede het na die hofuitspraak hul spesiale raadsvergadering gehou met behulp van vyf uitgeweke ANC-raadslede. Hulle het ’n kworum gehad om die begroting ter tafel te lê.
LEES OOK: KYK | Chaos met eiergooi en pepersproei in raadsvergadering ‘doelbewuste nuwe taktiek’
Die ander ANC-raadslede het nie die vergadering, wat deur Thapelo Matlala, stadsbestuurder gelei is, bygewoon nie. Die vergadering is gehou ingevolge Artikel 29(1A) van die Wysigingswet op Plaaslike Regering: Munisipale Stelsels van 2021 wat hulle magte gee om dit met ʼn petisie te doen.
Dit was noodsaaklik om die begroting ter tafel te lê voor of op 22 April, wat die keerdatum is vir Bentley Vass, LUR van samewerkende regering, se dreigement dat hy die munisipaliteit onder administrasie sal plaas ingevolge Artikel 139 van die Grondwet omdat daar volgehoue wanbestuur is en ook die raad se onvermoë om interne krisisse op te los.
In sy verklaring veroordeel die ANC “ ‘n reeks onwettige aksies wat die integriteit van die raad ondermyn”.
“Die ANC veroordeel in die sterkste moontlike terme Vrydag se raadsitting deur die opposisie en die amptenaar Matlala belê is. Volgens ons is die vergadering onwettig omdat die Speaker die enigste voorsittende beampte is met die wetlike gesag om gewone en spesiale raadsvergaderings te belê. Die party beskou die opposisie se optrede as ‘n doelbewuste poging om die grondwetlike gesag van die Speaker se kantoor te erodeer.”
Status van stadsbestuurder sentrale punt in geskil
‘n Sentrale punt van die geskil is die status van Matlala, wat volgens die ANC steeds geskors is en daar is ʼn hangende tugproses teen hom. Matlala het egter ʼn verklarende hofbevel bekom wat sy skorsing ophef omdat die korrekte prosesse nie gevolg is nie, ondanks die appèlaansoek deur die Speaker en burgemeester. In twee uitsprake het die hof persoonlike kostebevele teen die Speaker en burgemeester uitgereik.
Die ANC bly gegrief in hul verklaring.
“Die dissiplinêre proses teen Matlala het reeds begin en die munisipaliteit het ‘n Artikel 18(4)-appèl aangeteken, wat die hofbevel outomaties opskort wat Matlala in sy pos herstel.
“Matlala se besluit om aan te hou werk ondanks die appèlaansoek, kom neer op minagting van die hofproses en is ʼn oortreding. Gevolglik word alle besluite wat hy tydens hierdie tydperk geneem het, sowel as raadsvergaderings wat hy bygewoon het, as onwettig en hersienbaar beskou.”
In hul verklaring blameer die ANC ook die opposisie vir die munisipaliteit se versuim om die begroting betyds ter tafel te lê.
“Die ANC meen die statutêre grasietydperk het verstryk en dat onreëlmatige vergaderings nie die onwetlikheid kan regstel nie. Die opposisie gebruik sabotasie en vervaardigde wanorde” wat daarop gemik is om aandag van hul eie mislukkings af te lei.”
Ondanks die munisipale chaos, het die ANC gesê hulle gaan voort met hul organisatoriese programme.
“Dit sluit in verkiesingsopleiding vir 57 takke in die streek en die finalisering van die nominasieproses vir ANC-raadslidkandidate vir die komende plaaslike regeringsverkiesings. Die mense van Sol Plaatje is geregtig op institusionele stabiliteit en ononderbroke dienslewering,” lui die verklaring.
LEES OOK: Kimberley: Speaker moet dalk nóg regskoste betaal na mislukte interdik-aansoek





