Noordkaap Bulletin

KYK | Chaos met eiergooi en pepersproei in raadsvergadering ‘doelbewuste nuwe taktiek’

Nog 'n chaotiese spesiale raadsvergadering van die Sol Plaatje-munisipaliteit op 14 April.
Die eier wat op raadslid Peet Louw se rekenaar gegooi is. FOTO: Verskaf

KIMBERLEY – ’n Spesiale raadsvergadering wat deur raadslede belê is om die Sol Plaatje-munisipaliteit in Kimberley se begroting te aanvaar, het in volslae chaos ontaard terwyl interne ANC-faksiegevegte openlik plaasgevind het.

Verrigtinge het ineengestort nadat eiers op DA-raadslede gegooi en pepersproei gespuit is.

Dié spesiale raadsvergadering is deur raadslede, en nie die speaker soos normaalweg, belê.

Dinsdag 14 April se vergadering is gekenmerk deur ANC- en EFF-raadslede wat op mekaar geskreeu het omdat die ANC die vergadering wou verdaag aangesien hulle vyf van hul eie lede geskors het, en dié nie teenwoordig mag wees nie.

Nog 'n chaotiese spesiale raadsvergadering van die Sol Plaatje-munisipaliteit op 14 April.
Raadslede kyk ontstoke na die galery nadat die eiers gegooi is. FOTO: Charné Kemp Credit: Charne Kemp

Een van die betrokke vyf raadslede het gesê hulle sal nie die vergadering verlaat nie.

Die EFF het die ANC daarop gewys dat die skorsing ‘n interne ANC-kwessie is, en dit slegs van belang vir die raad is as die Onafhanklike Verkiesingskommissie (IEC) in kennis gestel is van die skorsings en vakante setels verklaar is.

Chaos ‘n poging tot administrasie

Die chaos van die raadsvergadering kwel sommige opposisieraadslede omdat die IEC verklaar het dat vanweë die komende plaaslike verkiesings, geen tussenverkiesings vanaf 1 Mei gaan plaasvind nie.

Een raadslid vermoed die chaos is ‘n poging om die munisipaliteit onder administrasie te plaas, soos wat Bentley Vass, LUR vir samewerkende regering, reeds gedreig het. Dit sal die regerende party in beheer van die Begrotingsfasiliteit vir infrastruktuur-toelae (BFI) van meer as R2,5 miljard plaas. Die toelae is deur die tesourie aan die munisipaliteit toegeken om die waterinfrastruktuur op te knap.

LEES OOK: ‘Dinge gebeur in Riverton’ om watersekerheid te bevorder

Die ingeligte meen in geval van administrasie “kan die administrateurs onder die regerende party  enigiets doen sonder raadslede se goedkeuring en buite beheer van die stadsbestuurder”.

Opposisieraadslede en ingeligtes meen die ANC se mislukte pogings, onder leiding van die speaker en burgemeester, om van Thapelo Matlala as stadsbestuurder ontslae te raak om beheer van die BFI-toelae te neem, het tot dié nuwe taktiek gelei om raadsvergaderings te ontwrig sodat die begroting nie goedgekeur kan word nie.

Omdat die poging om van Matlala ontslae te raak misluk het, word vergaderings ontwrig soos om eiers na DA-raadslede te gooi en pepersproei te spuit. As die munisipaliteit homself nie meer kan regeer nie, het die LUR meer rede om in te gryp.

LEES OOK: Groot rusie by Sol Plaatje-raadsvergadering oor betwiste skorsing

‘n Video is ook op sosiale media versprei waar mense wat na bewering die eiers vanuit die galery en pepersproei by die raadsaaldeure gespuit het, ná die tyd om die hoek van die munisipale gebou in ‘n ry staan. ’n Man, wat ook in die raadsaal se galery gesit het, het sy gesig grootliks met ‘n rooi Palestynse doek bedek en op die video kan gesien word dat hy elkeen wat in die ry staan iets in die hand stop.

ʼn Man wat sy gesig met ʼn rooi Palestynse doek bedek het, deel iets uit aan mense wat na bewering by die ontwrigting van die raadsvergadering betrokke was. VIDEO: Dawie Griesel, VF Plus-raadslid

Dreunsang dra tot ontwrigting by

Pontsho Moses Mocwana, EFF-raadslid, sê die vergadering wat om 10:00 begin het is voortdurend deur dreunsang ontwrig. Later het die luidsprekers nie gewerk nie en het die vergadering ná 13:00 weer begin.

“Die doel van die vergadering was die formele aanvaarding van die begroting, wat krities is vir volhoubare dienslewering aan die gemeenskap.

“Die speaker en die ANC wil doelbewus die munisipaliteit onder provinsiale administrasie plaas, vandaar haar onwilligheid om raadsvergaderings te hou. Sy het niks gedoen rakende die ANC-lede wat die vergadering ontwrig nie, maar laat die opposisielede dit nou doen…” sê hy.

Indiening van begroting, plan geblokkeer

Die DA eis op sy beurt dat toekomstige sittings virtueel gehou word om die veiligheid van raadslede te verseker.

Heinrich Pieterse, DA-koukusleier, sê die chaos was ‘n “doelbewuste en gekoördineerde poging” om die raad te laat ineenstort.

“Die doel was om die indiening van die uitstaande munisipale begroting en Geïntegreerde Ontwikkelingsplan (GOP) – wat reeds die sperdatum van 31 Maart oorskry het – te blokkeer.”

Die DA meen die sabotasie is daarop gemik om doelbewuste nie-nakoming te veroorsaak, wat Vass, sal dwing om die munisipaliteit ingevolge Artikel 139 onder noodadministrasie te plaas.

Raadslid Elize Niemann en raadslid Peet Louw is met eiers geteiken, met Louw se skootrekenaar wat in die proses beskadig is. Die gebruik van gas het raadslede verhinder om die saal veilig te verlaat, wat hulle gedwing het om skuiling te soek.

Nog 'n chaotiese spesiale raadsvergadering van die Sol Plaatje-munisipaliteit op 14 April.
Rou eier op raadslid Elize Niemann se klere. FOTO: Verskaf

Pieterse het skerp kritiek uitgespreek oor die burgemeester, Martha Bartlett, wat “deurgaans geswyg” het, asook die speaker, Dipuo Peters, en die ANC-hoofsweep, Martin White, wat versuim het om beheer oor die raadslede uit te oefen.

Die DA gaan aan Vass en die ANC-hoofsweep skryf om orde en aanspreeklikheid te eis.

Gebeure ‘n laagtepunt

Dr. Wynand Boshoff van die VF Plus het die gebeure as ’n laagtepunt bestempel in die jarelange ANC-faksiegeveg tussen die burgemeester en speaker aan die een kant, en die munisipale bestuurder, Thapelo Matlala, aan die ander kant.

Hy sê raadslede het bespiegel of die speaker, wat van die begin af ‘n masker gedra het, dalk vooraf geweet het dat traangas uit die openbare gallery gegooi gaan word.

“Video-getuienis dui ook op huur-’n-skare-politiek, waar persone op die galery glo items ontvang het van ’n individu in ’n motor buite die gebou,” sê hy.

“Wat hier aan die gang is, is ‘n regerende party wat nie oor sy faksies beheer het nie – ironies op dieselfde dag as wat die premier ‘n hoëvlak-beleggingskonferensie in die stad aanbied. Niks kan slegter vir beleggingsvertroue wees as ‘n munisipale regering wat in wanorde ontaard nie,” sê Boshoff.

LEES OOK: Sol Plaatje-krisis: Opposisiepartye wil ondersoek teen speaker laat doen

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article