Kimberley: LUR dreig om raad te ontbind terwyl speaker ondersoek lei

Bentley Vass
Bentley Vass, Noord-Kaapse LUR vir samewerkende regering. FOTO: Facebook

Kimberley: LUR dreig om raad te ontbind terwyl speaker ondersoek lei


Die toekoms van die Sol Plaatje-munisipaliteit in Kimberley lyk grou nadat Bentley Vass, LUR vir samewerkende regering, gedreig het om die munisipale raad te ontbind omdat die raad na die LUR se mening nie sy uitvoerende pligte nakom deur ’n behoorlike ondersoek na ‘n “twyfelagtige sakelys” van ‘n vorige raadsvergadering te doen nie.

Dit volg nadat Vrydag 12 Junie se spesiale vergadering waarin die sakelys “vertroulik” was ineengestort het omdat opposisiepartye uitgestap en daar nie meer ‘n kworum was nie.

Die ANC loop op dun ys omdat hy vyf van sy eie wyksraadslede afgedank het omdat hulle “afvallig” geraak het, en hy daardeur op die Patriotic Alliance (PA) en Good vir ‘n meerderheid moet steun. Geen tussenverkiesings vind plaas tot ná die plaaslike verkiesing op 4 November nie.

Volgens ingeligtes het die EFF wat ‘n paar weke gelede ingestem het om saam met die ANC te werk, ook uit die vergadering geloop.

Soveelste poging aangepak

Nog ‘n dringende raadsvergadering is weens dié ineenstorting vir Woensdag belê, na bewering ‘n soveelste poging van die ANC om van Thapelo Matlala, stadsbestuurder, ontslae te raak.

As rekenpligtige beampte word Matlala daarvan verdink dat hy verskillende sakelyste uit die raadsvergadering van 17 April wat virtueel gehou is, voorhou. Dit gee hom die mag om namens die munisipaliteit hofsake te voer.

Dipuo Peters, speaker, het onsuksesvol probeer om ‘n interdik teen die plaasvind van die 17 April-vergadering te bekom. Vass het intussen ‘n aansoek ingedien dat die hof dié betrokke vergadering wat opposisiepartye met ‘n petisie aangevra het en deur die vyf “afvallige” ANC-raadslede bygewoon is, onwettig verklaar.

Op dié vergadering is die begroting ter tafel gelê, dieselfde een wat tans aan inwoners in verskillende wyke vir goedkeuring voorgelê word.

Vass dreig in ‘n skrywe van 11 Junie om die huidige provinsiale ingryping ingevolge Artikel 139(1)(b) van die Grondwet na Artikel 139(1)(c) te verskerp wat sou beteken die provinsie sal die raad ontbind en ‘n administrateur aanstel. Vass kritiseer die feit dat die raad die speaker opdrag gegee het om binne sewe dae ‘n ondersoek te doen, in plaas daarvan om dadelik die formele regulasie 5-proses vir dissiplinêre stappe teen senior bestuurders te begin.

LEES OOK: Politieke toutrekkery in Sol Plaatje-munisipaliteit ten koste van hoofstad

Hy voer aan indien die raad nie toepaslik optree teen die “bewese bedrog en vervalsing” van sakelyste nie, dit neerkom op ‘n versuim om ‘n uitvoerende verpligting na te kom. Vass voer aan enige betalings aan eksterne diensverskaffers vir die ondersoek na die notules sal as “vrugtelose en verspilde uitgawes” beskou word. Raadslede kan persoonlik aanspreeklik gehou word vir uitgawes as hulle nie sy voorskrifte volg nie.

Die stadsbestuurder het glo notules aan Vass verskaf wat wesenlik verskil van die weergawe in amptelike hofstukke.

‘Onwettig en ongeldig’

Matlala het egter geseëvier in sy hofsaak teen die munisipaliteit oor die onwettigheid van sy tugverhoor wat op 8 Junie sou plaasvind.

Waarnemende regter Jane Ngubeni het in haar uitspraak bevind die dissiplinêre verrigtinge wat in Desember 2025 en Februarie 2026 teen Matlala ingestel is, is onwettig en het dit tersyde gestel. Volgens die regter was die ondersoek wat die grondslag van die dissiplinêre proses vorm, nie volgens die voorgeskrewe regulasies begin nie. Die raad het nie self ‘n onafhanklike ondersoeker aangestel nie, wat ‘n dwingende statutêre vereiste is. In plaas daarvan het die provinsiale regering gevra om ondersoekers aan te stel, waarvoor daar geen wetlike basis bestaan nie.

Die aanstellings van die voorsittende beampte en die aanklaer is onwettig en ongeldig verklaar. In plaas daarvan dat die uitvoerende burgemeester gemagtig is om die aanstellingsbriewe te teken, het die waarnemende stadsbestuurder dit geteken, wat nie die gesag gehad het nie. Daar was geen bewys van ‘n regsgeldige sub-delegasie wat die waarnemende stadsbestuurder toegelaat het om die funksies van die burgemeester oor te neem nie.

LEES OOK: Sol Plaatje-stadsbestuurder veg terug teen “onwettige” provinsiale ingryping

Volgens die hof was die foute nie bloot tegniese of formele tekortkominge nie, maar wesenlike onreëlmatighede wat die kern van die regsproses raak en van die begin af onwettig saamgestel was.

Intussen het Peters die ondersoek na die twyfelagtige sakelyste behartig omdat “niemand anders dit gewaag het om die beweerde vervalsing van raadsnotules te ondersoek nie.” Volgens haar is “daar direkte getuienis van opsetlike verandering van rekords. ‘n Elektroniese spoor van e-posse bevestig dat ‘n ongemagtigde opdrag gegee is om ‘n bedrieglike resolusie in die amptelike notules in te voeg. Die valse resolusie word tans in hoë-profiel litigasie gebruik, wat die munisipaliteit aan groot regstreekse risiko’s blootstel.”

Haar aanbeveling is dat die raad onmiddellik “gevolgebestuur” teen Matlala vir sy “ontoepaslike gedrag” instel.

Weier betrokkenheid by ‘bewyspeutery’

Vrydag se raadsvergadering het ineengestort omdat opposisiepartye gesê het hulle gaan nie die ondersoek aanvaar nie, omdat die sakelys voor die hof dien in Vass se aansoek, en daarom sub judice is. Een van die opposisieraadslede sê hulle gaan nie by “bewyspeutery” betrek word nie.

Die drama om van die stadsbestuurder ontslae te raak duur sedert verlede September. Intussen word die stad verswelg deur rioolvuil in buurte en in oorvol damme soos Platfontein en Kamfersdam, en vullis wat in woonbuurtes ophoop.

In sy intreetoespraak as premier het dr. Zamani Saul in 2019 beloof “ek sal nie die agteruitgang en ineenstorting van Kimberley as hoofstad duld nie. Die stad moet ontwikkel en as kern van ontwikkeling dien van ‘n groeiende, moderne en suksesvolle provinsie. Ons moet die stad skoonmaak.”

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article