Een van die dokters by ‘n Noord-Kaapse private hospitaal het op Vrydag 4 September in die hooggeregshof in Kimberley in sy getuienis beweer die slagoffer van ‘n beweerde verkragtingsvoorval het teen medici se advies op bykomende medikasie aangedring.
Die dokter het in die siviele geding van ‘n onderwyser teen die private hospitaal en een van sy werknemers getuig waarin meer as R1,9 miljoen geëis word.
Die eiser beweer dat sy in 2017 verkrag is terwyl sy as ‘n pasiënt in die hospitaal opgeneem was.
Luidens die hofstukke beweer die vrou sy is gedurende die nag in haar hospitaalkamer deur ‘n personeellid wat aan diens was, verkrag.
Sy voer aan dat sy weens sterk medikasie wat deur hospitaal-personeel aan haar toegedien is, benadeel is. Dit het haar slaperig, traag en nie in staat gelaat om weerstand te bied of tot die dade in te stem.
Sy het weens haar mediese toestand en die medikasie nie wetlik tot enige daad ingestem nie.
Weens die voorval eis sy sowat R1,9 miljoen gesamentlik van die instelling en die vermeende verkragter.
Die skadevergoeding behels:
- R750 000 vir algemene skade-vergoeding weens pyn, lyding en post-traumatiese stressteuring (PTSS);
- R560 000 vir toekomstige mediese, sielkundige en psigiatriese behandeling;
- R348 000 vir vorige verlies aan inkomste omdat sy 12 maande lank nie haar maandelikse salaris kon verdien nie;
- R261 000 vir toekomstige inkomste-verlies weens verdere behandeling wat sy moet ondergaan; en
- R10 000 vir historiese mediese koste.
Haar regspan voer aan die hospitaal het ‘n wesenlike risiko geskep deur manlike versorgers snags onbewaakte, vrye toegang te gee tot die kamers van kwesbare, vroulike pasiënte wat medisyne gebruik.
Die hospitaal ontken enige aanspreeklikheid en beveg die eis ten sterkste.
Verdagte nie ‘n verpleër nie
In hul verweerskrif voer die hospitaal aan die man was nie ‘n gekwalifiseerde manlike verpleër in hul diens soos beweer word nie, net ‘n versorger.
Die hospitaal ontken dat enige verkragting op hul perseel plaasgevind het.
Hul regspan het in hul verweer aangevoer dat sou die hof bevind seksuele omgang het wel plaasgevind, was dit met die eiser se toestemming, of selfs deur haar geïnisieer.
Die hospitaal voer verder aan indien die hof bevind verkragting het plaasgevind, die man buite die omvang van sy dienspligte opgetree het. Gevolglik kan die hospitaal nie aanspreeklik gehou word vir sy dade nie.
Hulle hou vol dat hul medikasie- en sekuriteitsprotokolle te alle tye voldoende was om die veiligheid en integriteit van hul pasiënte te verseker.
In sy getuienis het die dokter aangevoer die betrokke bestuurder het ‘n deeglike ondersoek gedoen en dat hy dié bestuurder vertrou het dat sy verklarings van alle tersaaklike personeel wat aan diens was en lig kon werp, verkry het.
Die polisie het ook hul eie ondersoek gedoen.
Die verhoor is onbepaald uitgestel om ‘n verdere verhoordatum te bepaal.
LEES OOK: Misdaad in Noord-Kaap: Moord minder; gewelddadigheid, verkragting meer


