Appèluitsprake plaas soeklig op ‘gruwelikheid’ van verkragting

Hofsake

Appèluitsprake plaas soeklig op ‘gruwelikheid’ van verkragting


KIMBERLEY – Die hooggeregshof in Kimberley het verlede week uitspraak gelewer in twee afsonderlike appèlsake wat die erns en diepgaande gevolge van geweld en seksuele misdrywe teenoor vroue en minderjariges opnuut in die kollig plaas.

Dit kom nadat pres. Cyril Ramaphosa die week voor dit, op 29 September, in ‘n nasionale toespraak weer eens geweld teen vroue en kinders as ’n “nasionale skande” en ’n bron van diep pyn bestempel het. Hy het erken dat die regering se optrede tot nou onbevredigend was.

Hy het ‘n vierpuntplan teen geslagsgebaseerde geweld bekend gemaak. Die polisie is opdrag gegee om alle onopgeloste sake en ondersoeke rakende geslagsgeweld en vrouemoord binne bepaalde spertye te hersien. Daar word gefokus op die vermindering van agterstande met DNS- en forensiese getuienis. Munisipaliteite moet veiligheidsoudits uitvoer om gevare soos stukkende straatligte, verlate geboue en onveilige openbare roetes te identifiseer en reg te maak. Strenger toepassing van bestaande drankwette en munisipale verordeninge moet plaasvind aangesien drankmisbruik dikwels met dié geweld verbind word.

Die president het benadruk geslagsgebaseerde geweld moet voorkom word voordat dit plaasvind.

Uitsprake van die hof wat op 2 Oktober gelewer is, handel oor sake van die verkragting van minderjariges waar die beskuldigdes in ‘n direkte vertrouensposisie teenoor die slagoffers gestaan het.

LEES OOK: Ramaphosa gives departments 60 days to deliver alcohol violence reduction plan

Misbruik van vertrouensposisie veroorsaak langdurige trauma

In die een saak het die hof ‘n appèl van ‘n 39-jarige man aangehoor wat in die Postmasburg-streekshof skuldig bevind is op aanklagte van verkragting van ‘n 13-jarige meisie. Die voorval het op 18 September 2022 in Postmasburg plaasgevind toe die beskuldigde sy vertrouensposisie misbruik het (hy was bekend met die familie) om die kind te verkrag.

Die hof met waarnemende regter T. Tyuthuza en adjunk-regter-president V. Phatshoane op die bank, het bevind die twee handelinge van penetrasie het as een deurlopende daad van verkragting plaasgevind. Derhalwe is die aanvanklike skuldigbevinding op twee aanklagte met ‘n skuldigbevinding op een aanklag van verkragting vervang.

Daar is egter geen wesenlike en dwingende omstandighede om van die voorgeskrewe minimum vonnis af te wyk nie, het die hof bevind.

Die beskuldigde se skending van vertroue, gebrek aan berou, en die langdurige sielkundige trauma wat die kind steeds beleef, het die hof genoop om hom tot lewenslange gevangenisstraf te vonnis.

LEES OOK: Ramaphosa declares emergency response to Gauteng femicide crisis

Slagoffer swanger ná verkragting

In die ander saak het die hof oor ‘n appèlaansoek teen die vonnis van ‘n afgetrede onderwyser beslis wat nou in sy sestigs is. Toe hy in sy dertigs was het hy ‘n meisie wat toe minderjarig was, in die tydperk 1992 tot 1995 te Mothibistad/Kuruman verkrag. Hy is deur sy huwelik aan die slagoffer verwant en is in 2017 aangekla en in 2024 skuldig bevind aan twee aanklagte van verkragting.

Hy is aanvanklik tot ʼn effektiewe 18 jaar gevangenisstraf gevonnis. Die slagoffer het weens die verkragting swanger geraak. Luidens die uitspraak het die swangerskap trauma veroorsaak, trauma wat ook deur die kind ervaar is.

Op appèl het regter L. Lever en waarnemende regter T. Tyuthuza nuwe getuienis aanvaar wat toon dat die aansoeker terminaal siek is en aan dikdermkanker ly. Hy kry behandeling vir hoë bloeddruk, diabetes en die nagevolge van ‘n beroerte.

Die staat het toegegee dat ‘n meer genadige vonnis in die belang van geregtigheid sou wees en die hof het die vonnis van 18 jaar ter syde gestel en met tien jaar gevangenisstraf vervang wat teruggedateer na 26 Januarie 2024 toe hy gevonnis is.

Die hof het bevind hoewel genade ‘n wesenlike element van regspraak is, die gruwelikheid van die daad steeds ‘n swaar direkte gevangenisstraf vereis.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article