KIMBERLEY – Die moontlike moordwapen en gehalte van slotbetooghoofde was op Woensdag 3 Junie ‘n onderwerp van bespreking in die hooggeregshof in Kimberley waar twee mans van moord aangekla word nadat hulle ‘n man glo doodgeskop en -geslaan het ná sy erkenning dat hy ’n minderjarige meisie seksueel aangerand het.
In die saak word Phillipus Adrian van Wyk (31) en Steven Francois Coetzee (43) daarvan beskuldig dat hulle Duncan Cameron op 12 November 2022 vermoor het.
Slagoffer ‘geslaan, geskop en verwurg’
Luidens die akte van beskuldiging het die voorval by Coetzee se huis in Herculesstraat, Herlear, begin waar die beskuldigdes en hul gesinne saam gebraai het. Gedurende die middag het die mans gehoor ‘n minderjarige familielid is na bewering deur Cameron seksueel aangerand.
Van Wyk was glo ook woedend daaroor en het verklaar het Cameron moet oorgenooi word omdat hy hom “wou doodmaak”.

Met Cameron se aankoms het die mans aanvanklik saam gedrink. Terwyl die vroue besig was om die aandete voor te berei, het die twee beskuldigdes Cameron buite aangeval.
Cameron is met gebalde vuiste geslaan, geskop, sy kop teen ‘n muur gestamp en is hy ook gewurg.
Na die aanval het Coetzee en ‘n buurman, Jason Strydom, Cameron se liggaam na die sypaadjie gedra waar hulle hom gelos het. Polisie en mediese personeel het hom later op die toneel dood verklaar.
‘n Lykskouing op 14 November 2022 het bevestig die oorsaak van dood is “stomp kop-trauma en verwurging”.
‘Voorbedagte rade, gemeenskaplike doel’
In haar slotbetoë het adv. Leshnee Pillay, aanklaer, aangevoer die mans het met voorbedagte rade en ‘n gemeenskaplike doel opgetree.
Sy het aan regter Albert Nxumalo toegegee daar was geen moordwapen soos ‘n graaf nie, hoewel die patoloog in sy hofgetuienis ‘n graaf as ‘n moontlike moordwapen genoem het. Volgens haar was die buurman en Vicky Coetzee, Coetzee se vrou, geloofwaardige getuies. Sy het glo onsuksesvol die mans gesmeek om nie die oorledene aan te rand nie. Van Wyk se vriendin, ene me. Ferris, was nie ‘n betroubare getuie nie.
LEES OOK: Matthews effektief 30 jaar tronk toe gestuur ná moord op eks
Adv. Kenneth Kgatwe, namens Van Wyk, het aangevoer Ferris was ‘n geloofwaardige getuie omdat sy erken het haar kêrel het die oorledene geslaan, en eerlik was oor Coetzee se mindere rol in die aanranding. Sy het gesien hoe Van Wyk sy knie op die oorledene geplaas het.
Van Wyk was glo kwaad omdat Cameron vernederende opmerkings oor vroue gemaak het, nie soseer oor die beweerde seksuele aanranding nie.
Op dié punt het regter Nxumalo vir Kgatwe aangespreek omdat hy nie kruisverwysings na die verhoorrekord in sy betooghoofde plaas om sy betoog te steun nie, en daarom heen en weer deur sy dokumente blaai.
“Kruisverwysings is ‘n noodsaaklikheid in slotbetoë, nie ‘n tierlantyntjie nie”.
Volgens die regter is die soort verhouding tussen getuies en beskuldigdes nie tersaaklik in slotbetoë nie, net of hul getuienis geloofwaardig is of nie.
Alkoholgebruik het ook ‘n rol gespeel, en daar was geen voorbedagte rade of samewerking met sy medebeskuldigde nie, het Kgatwe aangevoer. Van Wyk is deur die oorledene uitgetart, maar hy had nie die bedoeling om hom te dood nie.
Kgatwe het aangevoer ‘n graaf was moontlik as moordwapen gebruik.
Die regter vind dit uitdagend om vanweë die patoloog se mondelingse getuienis oor ‘n graaf uit te pluis waaraan die oorledene dood is. Die nadoodse verslag dui stomp geweld as die oorsaak van dood aan.
Geen voorafbeplanning, sê verdediging
Pierre Fourie, namens Coetzee, het aangevoer daar was geen voorafbeplanning om te moor nie. Sy kliënt kan hoogstens aan poging tot moord, of minstens aanranding met die doel om ernstig te beseer, skuldig bevind te word.

Hy het die staat gekritiseer dat hy nie Coetzee se ma as getuie geroep het nie, net Coetzee se vrou, Vickie. Dié het getuig dat sy die kinders na die buurman gevat het toe die vuisgeveg begin, en het nie gesien dat haar man veel aan die oorledene slaan nie. Dit is deur die buurman, wat geroep is om die geveg te help stop, bevestig.
Die buurman het ook getuig Coetzee het nie so aktief soos Van Wyk aan die aanranding deelgeneem nie. Ferris wat heeltyd teenwoordig was ten tyde van die voorval, se getuienis was vol teenstrydighede.
Coetzee het homself luidens die getuies van die volgehoue aanranding gedistansieer, het Fourie aangevoer.
Die regter het Fourie gekomplimenteer met sy goeie slotbetooghoofde en die ander regsverteenwoordigers aangemoedig om by hom kers op te steek.
Die saak duur voort.







You must be logged in to post a comment.