Adv. Celeste Nameka stap agter haar pa, Clive Ferris, by die beskuldigdebank uit.
Adv. Celeste Nameka stap agter haar pa, Clive Ferris, by die beskuldigdebank uit. FOTO: Charné Kemp

KIMBERLEY – ‘n Advokaat van Kimberley en voormalige waarnemende landdros, wat saam met haar pa, ‘n voormalige oud-skoolhoof van die Laerskool Homevale, van moord aangekla word, asook hul medebeskuldigde se voorverhoorkonferensie is Maandag 24 November in die hooggeregshof in Kimberley na volgende jaar uitgestel.

Dit was hul eerste verskyning in die hooggeregshof nadat die saak vroeër van die landdroshof oorgeplaas is.

Adv. Celeste Nameka (43) is vroeg al op borgtog vrygelaat. Haar pa, Clive Ferris (67), se aansoek om appèl teen die weiering van sy borgtog in die landdroshof is later deur die hooggeregshof omgekeer. Hul medebeskuldigde, Obrey Mabija, is op waarskuwing vrygelaat.

Nameka en haar pa staan benewens moord en drie aanklagte van poging tot moord saam met hul medebeskuldigde tereg op aanranding met die doel om ernstig te beseer.

Ferris word ook van die onwettige besit van ‘n vuurwapen en ammunisie aangekla.

'n Advokaat van Kimberley en voormalige waarnemende landdros, wat saam met haar pa, 'n voormalige oud-skoolhoof van die Laerskool Homevale, van moord aangekla word, asook hul medebeskuldigde se voorverhoorkonferensie is Maandag 24 November in die hooggeregshof in Kimberley na volgende jaar uitgestel.
Obrey Mabija probeer sy gesig bedek. FOTO: Charné Kemp

Beeldmateriaal staaf getuies se weergawe

Die skietvoorval het vroegoggend op 21 Desember 2024 by ‘n woonkompleks in Minerva Gardens in Kimberley plaasgevind waar Nameka saam het haar kêrel, Lucan Anthony, gewoon het. Die kêrel is glo in sy boud geskiet terwyl sy middeljarige ma, Charmaine Anthony, in die maag gewond is. Sy is later aan haar beserings in die hospitaal oorlede.

Sers. Modise Clive Moshotloa, ondersoekbeampte, het in die borgtogaansoeke in sy getuienis verklarings van sekere van die ooggetuies aangehaal en gesê kringtelevisiebeeldmateriaal van die voorval ondersteun die getuies se weergawes.

LEES OOK: Oud-skoolhoof kry borgtog in moordsaak

‘n Vriendin was by Nameka toe haar kêrel van die werk tuiskom. ‘n Rusie het ontstaan waarin Nameka en die kêrel mekaar glo van ontrouheid beskuldig het. Nameka het haar pa gebel en daarna glo aan die kêrel gesê: “Jy sal sien wanneer my pa kom.” Die kêrel het toe sy familielede gebel.

Ferris het glo met ‘n vuurwapen uit sy bakkie klim en dit op die kêrel gerig. Hy het na beweringvir Anthony in die gesig geslaan en gesê hy het sy dogter lank genoeg aangerand. Die vriendin het glo gehoor hoe Ferris sê: “Ek sal jou wys wie ek is.” Die kêrel het vergifnis gevra. ‘n Skoot het afgegaan en die kêrel het geskreeu.

Die vriendin het later vertrek, Anthony se familielede buite die kompleks se hek gesien, en die oorledene gewaarsku oor die vuurwapen. Nog ‘n skoot het afgegaan. Nameka het die vriendin gebel om ‘n ambulans te ontbied.

Oorledene in buik geskiet

Volgens die kêrel se verklaring het Nameka glo geroep: “Skiet hom pappie, skiet hom.” ‘n Renault met vier mans, waarvan twee gemaskerd was, het opgedaag. Die mans het die kêrel gegryp en ‘n gordel om sy nek gehaak. Ferris het hom na bewering geslaan en Nameka hom glo deur die gesig geklap.

Die kêrel het losgekom en oor die hek geklim waar sy familielede was. Nameka het die hek oopgemaak terwyl Ferris na bewering met sy vuurwapen die broers gejaag het. Nameka het glo geskreeu: “Skiet hulle Pappie, skiet hulle almal!”

Die oorledene is by die voorste motor in haar buik geskiet. Een van die broers het Ferris van agter met ‘n baksteen op die kop geslaan. Ferris het geval en ‘n broer het die vuurwapen in sy sak gedruk. Die broers het die gewonde vrou en kêrel hospitaal toe geneem.

Ferris se vuurwapenlisensie was glo nie betyds hernu nie.

Adv. Jacques Rosenberg kla aan. Adv. Joy Mongala tree namens Nameka en Ferris op. Mabija sal van Regshulp Suid-Afrika gebruik maak.

Die saak is deur regterpresident Pule Tlaletsi tot 10 Februarie uitgestel.

LEES OOK: 16 Days of Activism begins as South Africa elevates GBV to national disaster status

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article