KIMBERLEY – Die verhoor waarin adv. Celeste Nameka en twee ander onder meer teregstaan op moord en poging tot moord in die hooggereghof in Kimberley, is op Maandag 26 Oktober tot volgende jaar uitgestel, glo weens haar komende borgtogaansoek in die nuwe strafsaak teen haar.
Nameka het Vrydag in die landdroshof in ‘n nuwe afsonderlike strafsaak op aanklagte van sameswering om moord te pleeg, asook dwelmhandel, verskyn. Die borgtogaansoek in die nuwe saak vind Vrydag in die landdroshof plaas.
Nameka was op haar dag ‘n waarnemende landdros in Kimberley en het aangeklaagdes in verskeie hoëprofiel-strafsake verteenwoordig.
‘n Landdros van ‘n ander provinsie sal haar nuwe borgtogaansoek aanhoor.
Soos Vrydag met haar hofverskyning het Nameka ook Maandag in die hooggeregshof afgerem gelyk nadat sy deur polisielede van onder uit die selle begelei is. Sy word glo in die ou gevangenis in Kimberley aangehou.
Volgens ingeligte bronne wil sy vandeesweek vir die borgtogaansoek voorberei.
Die jongste aanklagte hou glo verband met mekaar en het betrekking op ‘n voorval wat in Augustus vanjaar gebeur het. Die eerste beskuldigde in dié betrokke saak, Clayton Jackson, het reeds op dieselfde aanklagte verskyn. Sy borgtogaansoek is geweier.
LEES OOK: Moordverhoor: Hof sien op video hoe bloedbad by sekuriteitshek ontvou
Beskuldigdes in hooggeregshofsaak op borgtog
In die hooggeregshofverhoor word Nameka saam met haar pa, Clive Ferris – ‘n afgetrede skoolhoof, en Obrey Mabija aangekla. Al drie is vir die saak op borgtog vrygelaat.
Die aanklagte sluit in moord, poging tot moord, en aanranding met die opset om ernstig te beseer. Die saak spruit uit ’n voorval op 21 Desember 2024 by die Angelo Way-woonstelkompleks in Minerva Gardens ná ’n minnaarsrusie tussen Nameka en Lucan Anthony. Nameka het vir Ferris en Mabija ontbied en Anthony is glo met ’n ongelisensieerde 9mm CZ-semi-outomatiese pistool in die gesig geslaan. ’n Groep mans, van wie twee klapmusse gedra het, het hulself valslik as polisiebeamptes voorgestel en het Anthony glo aangerand.
Toe Anthony na die buitehek vlug waar familielede en vriende hom oor die heining probeer help het, het Ferris ook na die hek beweeg. Nameka het haar pa glo aangespoor om “almal dood te skiet”. Verskeie skote is afgevuur en Charmaine Anthony is noodlottig in die onderbuik gewond. Lucan is in die boud geskiet. Sy broer, Laurent, kon Ferris met ’n baksteen teen die kop slaan en ontwapen. Die staat voer aan die beskuldigdes het deurgaans met gemeenskaplike oogmerke opgetree.
Vandeesweek sou Laurent kruisondervra word, en het hy gereed in die getuiebank gesit voordat regterpresident Pule Tlaletsi die saak tot 1 Maart 2027 uitgestel het.
LEES OOK: Advokaat Nameka verskyn weer in hof op nuwe aanklagte





