KIMBERLEY – Dramatiese videogrepe wat in die hooggeregshof in Kimberley vertoon is, toon die winderige oggend van 21 Desember 2024 by ‘n rylaan in Minerva Gardens in die stad waar ‘n minnaarsrusie tussen ‘n sakeman en sy meisie wie ‘n bekende advokaat is, daartoe gelei het dat die advokaat se pa die sakeman se ma na bewering doodgeskiet het.
In dié moordsaak is die drie aangeklaagdes adv. Celeste Nameka (43), haar pa, Clive Ferris (67) wie ‘n afgetrede skoolhoof is, en Obrey Mabija wat betrek word by die skietvoorval waarin Lucan Anthony se ma, Charmaine Anthony, dood is. Lucan is ook na bewering aangerand.
Die aanklagte sluit in voorbedagte moord, poging tot moord, aanranding met die opset om ernstig te beseer, en die onwettige besit van ‘n vuurwapen en ammunisie.

Huishoudelike rusie die beginpunt
Luidens die akte van beskuldiging was Nameka en Lucan daardie oggend in ‘n vurige huishoudelike rusie betrokke. Nameka het haar pa per selfoon vir hulp ontbied, terwyl Lucan sy broer, Laurent, gevra het om hom te kom bystaan.
Die videogrepe wat op Woensdag 26 Augustus in die hof vertoon is, is verkry van ‘n buurman se sekuriteitskameras wat op die buitenste sekuriteitshek van ‘n rylaan wat na verskeie huise lei, gerig is. Die huis waar die rusie begin het, is skynbaar om die hoek en buite sig van die kameras.
Op die videobeelde staan Nameka omstreeks 06:00 op ‘n hoek van die rylaan waar sy skynbaar op iemand wag. Haar pa kom in sy Opel Corsa-bakkie ingery en later nog ‘n voertuig waarin Nameka klim. Die motors raak uit sig. Later kom Lucan, wat skynbaar mank stap, na die hek. Hy probeer oor die sekuriteitshek klim. Wanneer sy broer en ander familielede in twee voertuie opdaag help hulle hom om oor die hek na die buitekant van die perseel te klim.
Dan kom Ferris, met ‘n voorwerp wat in sy hand agter sy rug is, aangeloop. Nameka is ook teenwoordig. Die hek gaan oop, en pa en dogter loop na buite. Die Anthony familie-lede skarrel al om die motors om van Ferris weg te kom. In ‘n stadium kom dit voor of Ferris ‘n voorwerp op iemand agter die agterste motor rig. Een van die Anthony-familie sluip dan van agter en slaan hom oor die kop waarna hy op die grond val.
Videobeelde wys verloop
Die eerste getuies was ao. Lutsha Shumane wat die videobeelde van ‘n buurman, Abubakr Adams, se drie sekuriteitskameras afgelaai het. Adams het in sy getuienis bevestig die materiaal kom van sy video-apparaat en hy het dit vir die polisie gegee.
Die staat voer aan Ferris het met minstens twee onbekende mans in ‘n wit Opel Corsa-bakkie opgedaag. Nameka het die kompleks se hek oopgemaak, waarna Ferris na die meenthuis gery het waar hy na bewering vir Lucan met ‘n ongelisensieerde 9mm CZ-semi-outomatiese pistool in die gesig geslaan het.
Daarna het Mabija in ‘n silwer Renault-luikrugmotor saam met onbekende mans opgedaag. Nameka het glo in dié motor geklim. Vier mans, van wie twee klapmusse gedra het, het Lucan aangerand. Nameka het glo valslik aangevoer dié mans is polisiebeamptes. Sy het na bewering aktief aan die aanranding deelgeneem.
Volgens die staat het Nameka haar pa aangemoedig om Lucan te skiet. Ferris het glo die vuurwapen op Lucan gerig, maar een van die ander mans het dit in daardie stadium by hom afgeneem, wat Lucan kans gegee het om na die kompleks se buitehek te vlug.
Intussen het Laurent saam met Tobenna King Nwaimo in ‘n silwer Audi by die hek opgedaag. Die broers se ma en Tyler Kock het in ‘n Chevrolet-voertuig stilgehou. Hulle het Lucan gehelp om oor die hek te klim om van sy aanvallers te ontsnap.
Ferris en Nameka het na die hek geloop, waar Ferris na bewering gedreig het om Lucan se ma leed aan te doen. Pa en dogter het aanvanklik weggeloop, maar teruggekeer met Ferris wat glo die vuurwapen in sy regterhand gehad het.
‘Skiet sonder waarskuwing’
Die staat voer aan Ferris het sonder waarskuwing op die groep mense voor die hek begin skiet. Nameka het haar pa glo aangepor om “almal dood te skiet”, asook ‘n Nigeriese man, ene Nwaimo.
Charmaine is in die regterkant van haar onderbuik getref en is weens dié skietwond dood.
Lucan het ook op die grond gelê. Ferris het na bewering oor hom gaan staan om hom dood te skiet. Laurent het ingegryp en Ferris met ‘n baksteen teen die kop geslaan en hom ontwapen.
Adv. Jacques Rosenberg kla aan. Adv. Joy Mongala tree namens Ferris en Nameka op, en adv. Babalwa April vir Mabija, in opdrag van Regshulp Suid-Afrika.
Regterpresident Pule Tlaletsi het die verhoor tot Maandag uitgestel.
LEES OOK: Verhoor van advokaat en haar pa in Augustus, ondanks besware





