KIMBERLEY – Die hooggeregshof in Kimberley het Maandag gehoor hoe Laurent Anthony getuig het oor die voorval op 21 Desember 2024 in Minerva Gardens in Kimberley toe sy ma, Charmaine Anthony, na bewering deur Clive Ferris gedreig en doodgeskiet is nadat Ferris se advokaat-dogter hom glo aangehits het.
Die drie aangeklaagdes is Ferris, afgetrede skoolhoof; sy dogter adv. Celeste Nameka en Obrey Mabija. Die aanklagte sluit in moord, poging tot moord, aanranding met die opset om ernstig te beseer, en die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie.
Luidens die akte van beskuldiging was Nameka en Lucan Anthony, Laurent se broer en Charmaine se jonger seun, daardie oggend in ’n vurige minnaarsrusie betrokke. Nameka het haar pa per selfoon vir hulp ontbied, terwyl Lucan sy familie gevra het om ook te kom.
Ma bel oor ‘moeilikheid’
Laurent het getuig hy is daardie Vrydagoggend omstreeks 05:30 deur sy ma wakker gebel wat vir hom gesê het daar is moeilikheid by Lucan se huis en dat hy daarheen moet gaan. Sy huismaat, ene King, het hom vergesel. Sy ma, vergesel deur ene Tyler, het kort daarna opgedaag en agter sy Audi-voertuig met haar Chevrolet-nutsvoertuig aan die buitekant van Lucan se woonkompleks by die sekuriteitshek stilgehou.
Laurent het “die verskrikte en geskokte” Lucan aan die ander kant van die sekuriteitshek gesien. Hulle het Lucan gehelp om oor die hek te klim. Lucan het ‘n vlek op sy broek gehad en vertel hy het homself “bevuil” nadat hy in sy huis deur drie of vier mans aangerand en daar op hom geskiet is.
Laurent en die ander het onsuksesvol probeer om die polisie te bel om die voorval te kom ondersoek. “Ons het vir die polisie gewag, ons wou nie baklei nie.”
Nameka het aangeloop gekom en glo op “hulle gevloek en skel.” Ferris se pa “Pappa Fe” het ook nadergekom en was glo aggressief. Ferris het glo sy vingers deur die hek op hulle gerig en op Charmaine geskreeu: “Teef, ek gaan jou skiet en doodmaak.” Hy het Lucan na bewering gedreig dat hy hom “gaan vrekskiet”.
Volgens Laurent het hulle nie reageer nie. Pa en dogter het teruggeloop na die huis se kant. Een van Nameka se vriendinne het by die hek uitgery en aan die groep mense buitekant gesê die mense in die huis “is nie reg nie” waarna sy vertrek het.
‘Vir ons lewe gevrees’
Ferris en Nameka het weer nadergekom en die hek met ʼn afstandbeheer oopgemaak. Ferris het ʼn handwapen in sy regterhand gehad en dit glo op hulle gerig. Lucan het gewaarsku dat hy gaan skiet. Die Anthony-broers, die ander twee mans en Charmaine het agter hul voertuie skuiling gesoek.
Nameka het glo geskreeu: “Skiet hulle pappie” waarna die eerste skoot geklap het.
“Ons het vir ons lewe gevrees,” het Laurent getuig. Intussen het King na die oorkant gehardloop en agter ʼn elektriese kragboks skuiling gesoek. Nameka het glo geskreeu: “Pappie, daar is nog een, skiet hom.”
Ferris het glo soontoe geloop maar na die motors teruggekeer waar die Anthonys en Tyler geskuil het. Nog ʼn skoot is deur die Audi se regterkantste agterruit geskiet.
Soos Ferris om die motors geloop het, het die mense probeer om sover moontlik van hom te bly. In ʼn stadium was Laurent, Lucan en Tyler tussen die twee voertuie. Laurent het gehoor hoe sy ma “eina” skreeu. Hy kon haar nie sien nie, maar het gesien hoe Ferris wat links van die nutsvoertuig was na regs draai, die vuurwapen na die agterkant van die voertuig na onder rig en glo skiet.
Ferris het van die voertuig weggeloop, waarna Laurent ʼn plaveiselsteen opgetel en Ferris van agter “met alle mag” oor die kop geslaan het. Ferris het geval, met die vuurwapen wat uit sy hand tuimel. Laurent het die vuurwapen opgetel. Nameka het nader gekom om die vuurwapen by hom af te vat, maar Lucan het haar weggetrek.
Gewonde ma na hospitaal geneem
Laurent skreeu toe: “My ma, my ma, bel die ambulans”.
Dis toe dat nog ‘n silwer Renault Clio by die hek uitry, en twee of drie mans uitklim. Nameka het na bewering aan hulle gesê om die vuurwapen by Laurent af te vat. Laurent het ene Nicky (Mibija) herken en hom met sy gesperde hand gewaarsku om nie nader te kom nie. Die vuurwapen in Laurent se regterhand het grond toe gewys.
Dis toe dat die broers, met Mabija en ander se hulp, vir Charmaine in haar voertuig laai om hospitaal toe te vat.
Nameka, wat by haar pa gekniel het, het opgespring en met haar selfoon foto’s van die motor geneem. Tyler het agter die stuurwiel ingeklim en ʼn U-draai gemaak. Laurent het ook ingeklim sodat hulle hospitaal toe kon ry.
Adv. Jacques Rosenberg kla aan. Adv. Joy Mongala tree namens Ferris en Nameka op, en adv. Babalwa April vir Mabija, in opdrag van Regshulp Suid-Afrika.
Regterpresident Pule Tlaletsi het die verhoor tot Dinsdag uitgestel.
LEES OOK: Moordverhoor: Hof sien op video hoe bloedbad by sekuriteitshek ontvou





