Celeste Nameka
Adv. Celeste Nameka (regs) Maandag in die hof. FOTO: Charné Kemp

Ondanks besware van ‘n advokaat van Kimberley en voormalige waarnemende landdros wat van moord aangekla word, oor die aanklaer in die voorverhoorverrigtinge, het regterpresident Tule Tlaletsi op Maandag 20 April bepaal die verhoor moet vanjaar begin. Die advokaat se pa, ‘n voormalige skoolhoof van die Laerskool Homevale, word ook aangekla.

Die drie aangeklaagdes – adv. Celeste Nameka (43), haar pa, Clive Ferris (67) en Obrey Mabija – word by ‘n skietvoorval waarin ‘n vrou dood is, betrek.

Weens die eerste twee beskuldigdes se besware oor die aanklaer se “partydigheid” is die voorverhoor reeds twee keer uitgestel

Die voorval het vroegoggend op 21 Desember 2024 by ‘n woonkompleks in Minerva Gardens, Kimberley, plaasgevind waar Nameka saam het haar kêrel, Lucan Anthony, gewoon het.

Die kêrel is glo in sy boud geskiet terwyl sy middeljarige ma, Charmaine Anthony, in die maag gewond is. Anthony is later aan haar beserings in die hospitaal oorlede.

LEES OOK: Anthony-moordsaak: ‘Beskuldigde verswak’ hoor hof in borgtogappèlaansoek

Nameka en haar pa staan benewens moord en drie aanklagte van poging tot moord ook saam met hul mede-beskuldigde tereg op aanranding met die doel om ernstig te beseer.

Ferris word ook van die onwettige besit van ‘n vuurwapen en ammunisie aangekla.

Adv. Joy Mongala het namens hulle Maandag in die hof aangevoer hulle het reeds etlike briewe aan die provinsiale waarnemende Direkteur van Openbare Vervolging en die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging oor hul besware geskryf.

Die bewering is dat adv. Jacques Rosenberg, aanklaer, insae gehad het in ‘n ander onverwante saak waarin Nameka die klaer is. Hy is daarom volgens hulle “bevooroordeeld”.

Indien die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging nie binnekort ‘n beslissing maak nie, “is daar ander weë wat hulle sal volg om Rosenberg van die saak te laat afhaal.”

Die staat het nie Maandag betoë gelewer nie.

Tlaletsi het bevind die voorverhoor is administratief van aard en slegs om te bepaal of die saak verhoorgereed en die akte van beskuldiging op die beskuldigdes beteken is. Betoë oor vooroordeel is nie tersaaklik nie.

‘n Aansoek om ‘n aanklaer te vervang kan nie ook aangehoor word nie

Tlaletsi het die verhoor tot 24 Augustus uitgestel.

LEES OOK: Advokaat en pa se moordsaak in hooggeregshof; uitgestel na 2026

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article