In wat deur ingeligtes beskou word as nog “ ʼn onderduimse manier om die Sol Plaatje-munisipaliteit onder administrasie te plaas om toegang tot geldbronne voor die verkiesing te verkry nadat ander taktieke gefaal het,” word ʼn hofaansoek op 30 April in die Hooggeregshof in Kimberley aangehoor.
Dit volg nadat die ANC in ʼn poging om mag in die raadsaal te versterk, drie burgemeesterskomiteelid-poste in die Sol Plaatje-munisipaliteit en Frances Baard-distriksmunisipaliteit aan die EFF in ruil vir samewerking gebied het.
Vyf van sy eie raadslede het afvallig geword en saam met die EFF en ander opposisiepartye ʼn spesiale raadsvergadering op 17 April met ʼn petisie gehou om die begroting ter tafel te lê. Die vergadering is virtueel gehou nadat die vorige raadsvergadering wat die opposisie belê het, in ʼn chaos verval het omdat ANC en EFF lede op mekaar geskreeu, en lede van publiek eiers na opposisieraadslede geslinger het.
LEES OOK: Regter kap speaker oor interdik, Peters moet moontlik self vir regskoste opdok
Dipuo Peters, speaker, se onlangse dringende hofaansoek om dié virtuele raadsvergadering met ʼn interdikaansoek te staak, is van die hand gewys.
Peters en Martha Bartlett, burgemeester, se vorige pogings om van Thapelo Matlala, stadsbestuurder, weens bewerings van korrupsie ontslae te raak het ook gefaal met persoonlike kostebevele teen hulle. Die hofaansoeke het gespruit uit die munisipaliteit se versuim om die regte tugproses teen Matlala weens dié bewerings te volg.
‘Institusionele wanfunksionering, bestuursverlamming en grondwetlike versuim’
In die jongste hofaansoek teen onder meer die raad, munisipaliteit en opposisiepartye wil die Institute of African Royalty stappe doen om in te gryp in wat beskryf word as ‘n “algehele ineenstorting van plaaslike regering”.
Die stadsbestuurder, asook een van die opposisiepartye, gaan volgens ingeligtes die aansoek teenstaan.
Die aansoek wat op 30 April aangehoor word, volg op ‘n formele aanmaningsbrief wat in Maart deur Haarhoffs Prokureurs uitgereik is.
In die brief word die munisipaliteit “op terme geplaas vir institusionele wanfunksionering, bestuursverlamming en grondwetlike versuim”.
Na bewering staar Matlala ʼn rits aanklagte in die gesig, insluitend growwe nalatigheid, oneerlikheid, botsing van belange en die wanbestuur van openbare fondse.
Spesifieke beweringe sluit in die kansellasie van konstruksiewaarborge van sowat R1,4 miljoen en die versuim aan omsigtigheid oor die beëindiging van kontrakte en aanstellings. Daarby het die munisipaliteit se wanbestuur gelei tot rioolstortings, infrastruktuur wat ingee en openbare betogings.
Die regsverteenwoordiger skryf aan die munisipaliteit dit “is vasgevang in ‘n staat van bestuursverlamming”. Dit is weens vier afsonderlike raadsvergaderings wat ineengestort het sonder dat bindende besluite geneem is.
Op 12 Maart het die LUR vir samewerkende regering, menslike nedersettings en tradisionele sake ‘n formele direktief ingevolge Artikel 139(1)(a) van die Grondwet uitgereik. Die direktief bevestig die munisipaliteit het versuim om sy uitvoerende verpligtinge na te kom en het gewaarsku teen meer indringende provinsiale inmenging indien regstellende stappe nie binne 14 dae geneem word nie, lui die brief.
Dié sperdatum is later uitgestel.





