Celeste Nameka Vrydag tydens haar verskyning in die landdroshof.
Celeste Nameka Vrydag tydens haar verskyning in die landdroshof. FOTO: Charné Kemp

Advokaat Nameka verskyn weer in hof op nuwe aanklagte


KIMBERLEY – Adv. Celeste Nameka, wat vroeër op borgtog vrygelaat is in ‘n hooggeregshofsaak waarin sy en twee ander onder meer op aanklagte van moord en poging tot moord teregstaan, het Vrydag 23 Oktober in die landdroshof in Kimberley verskyn op nuwe aanklagte van sameswering om moord te pleeg, asook dwelmhandel.

Nameka was op haar dag ‘n waarnemende landdros in Kimberley en het aangeklaagdes in verskeie hoë profielsake verteenwoordig.

Adv. Celeste Nameka
Adv. Celeste Nameka tydens ‘n vorige hofverskyning.FOTO: Charné Kemp

Sy was Vrydag in die beskuldigdebank in ‘n swart sweetpak geklee met haar hare in ‘n poniestert vasgebind. Vanuit die beskuldigdebank het sy na haar ondersteuners, onder wie haar pa, Clive Ferris, in die galery gekyk en met haar duim gewys sy is “okey”. Sy het afgerem gelyk en sal ‘n paar nagte in aanhouding deurbring voor haar volgende hofverskyning.

LEES OOK: Hof hoor oudskoolhoof dreig glo om mense ‘vrek te skiet’

Eerste beskuldigde se borgtogaansoek geweier

Die nuwe aanklagte hou glo verband met mekaar en het betrekking op ‘n voorval wat in Augustus vanjaar gebeur het. Die eerste beskuldigde in dié betrokke saak, Clayton Jackson, het reeds op dieselfde aanklagte verskyn. Sy borgtogaansoek is geweier.

Jackson se naam verskyn in die akte van beskuldiging in die hooggeregshofverhoor van George “Barney” Peters, waarin Peters en 14 ander van moord, dwelmhandel, bedrog en ander bendeverwante aanklagte aangekla word.

Nameka het sommige van dié hofsittings van dié Peters-verhoor bygewoon.

LEES OOK: ‘Barney’ gaan homself verdedig sodat hy ‘vrae aan getuies kan stel soos hy wil’

Jackson is glo ‘n meeloper van Roger Johnson, Peters se aartsvyand.  Peters word aangekla dat hy en van sy medebeskuldgdes vir Jackson wou vermoor. Laat die nag van 20/21 Januarie 2022 het hulle na Jackson se huis in Roodepan gegaan om hom glo te vermoor, maar hulle kon hom nie uit die huis lok nie en moes die plan laat vaar.

Nameka se jongste borgtogaansoek kan nie deur ‘n plaaslike landdros aangehoor word nie weens haar profiel as regsgeleerde. Volgens staatsaanklaer Neo Batsikane sal die betrokke landdros moontlik van ‘n ander provinsie ingeroep moet word. Hy sal ook nie aanklaer wees nie.

Elthea Mongale tree namens Nameka op.

Landdros Benjamin September het die saak tot 30 Oktober uitgestel.  

Hooggeregshofverhoor nog nie afgehandel

In die hooggeregshofverhoor word Nameka saam met haar pa, Ferris, ‘n afgetrede skoolhoof, asook Obrey Mabija aangekla.

Die aanklagte sluit in moord, poging tot moord, en aanranding met die opset om ernstig te beseer. Die saak spruit uit ‘n voorval op 21 Desember 2024 by die Angelo Way-woonstelkompleks in Minerva Gardens ná ‘n minnaarsrusie tussen Nameka en Lucan Anthony. Nameka het toe vir Ferris en Mabija ontbied. Anthony is glo met ‘n ongelisensieerde 9mm CZ-semi-outomatiese pistool in die gesig geslaan. ‘n Groep mans, van wie twee klapmusse gedra het, het hulself valslik as polisiebeamptes voorgestel en het Anthony glo aangerand.

Toe Anthony na die buitehek vlug waar familielede en vriende hom oor die heining probeer help het, het Ferris ook na die hek beweeg. Nameka het haar pa glo aangespoor om “almal dood te skiet”. Verskeie skote is afgevuur en Charmaine Anthony is noodlottig in die onderbuik gewond. Haar seun, Anthony, is in die boud geskiet. Anthony se broer, Laurent, kon Ferris met ‘n baksteen teen die kop slaan en ontwapen. Die staat voer aan dat die beskuldigdes het deurgaans met gemeenskaplike oogmerke opgetree.

LEES OOK: Anthony-moordsaak: ‘Beskuldigde verswak’ hoor hof in borgtogappèlaansoek

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article