KIMBERLEY – Hoewel ‘n daling in moordsake in die Noord-Kaap aangeteken is, toon die jongste amptelike misdaadstatistiek vir die provinsie dat ander gewelddadige kontakmisdade en veral seksuele misdrywe skerp toegeneem het.
Dié statistiek vir die eerste kwartaal van die 2026-’27-boekjaar wat die tydperk van 1 April tot 30 Junie dek, toon ‘n kommerwekkende misdaadsituasie vir vroue en kinders.
Hierdie statistiek is Vrydag 4 September deur brigadier Samuel Mathe, provinsiale hoof van die misdaadregister, in die teenwoordigheid van luitenant-generaal Koliswa Otola, provinsiale polisiekommissaris, aangebied.

Anders as in ander provinsies waar vuurwapengeweld die botoon voer, is messe en skerp voorwerpe die mees algemene moordwapen in die Noord-Kaap.
Luidens die statistieke is messe in 18 moordsake, skerp voorwerpe in vier sake, vuurwapens in vyf sake, stomp voorwerpe en liggaamsdele en klippe/stene in drie sake gebruik.
In die Frances Baard-distrik is ses moorde met ‘n mes teenoor drie met ‘n vuurwapen gepleeg, terwyl in die Pixley ka Seme-distrik vyf moorde met messe gepleeg is, maar geen met vuurwapens nie. In die John Taolo Gaetsewe-distrik is vier moorde met messe gepleeg, ook geen met vuurwapens nie.
Oorsake van meeste geweld in Noord-Kaap
Die statistieke toon die oorgrote meerderheid van geweld spruit uit antisosiale gedrag en rusies, eerder as georganiseerde misdaad.
Die meerderheid gewelddadige voorvalle (moord, poging tot moord en ernstige aanranding) spruit direk uit argumente, misverstande, uitlokking of bakleiery. Dit was die oorsaak van 14 moorde, 412 pogings tot moord en 759 ernstige aanrandingsake met die doel om ernstig te beseer. Wraak daarenteen was die oorsaak van een moord, twee pogings tot moord en 32 ernstige aanrandings.
Die misdrywe vind meesal in openbare plekke soos strate, oop velde en parkeerareas plaas. Drankverskaffers, sjebiens, tavernes en nagklubs was ook die toneel vir drie moorde, 70 pogings tot moord en 458 ernstige aanrandings.
Otola sê die toename in kontakmisdade word aan oormatige alkohol- en dwelmmisbruik toegeskryf.
Hoewel die aantal moorde met 22 sake gedaal het (van 74 tot 52 sake, ‘n daling van sowat 29,7%), is die res van die aantal kontakmisdaadsyfers verontrustend.
Seksuele misdrywe het met 32,9% toegeneem, van 280 tot 372 sake, terwyl verkragting met 43,4% toegeneem het, van 198 tot 284 sake.
Tweede meeste verkragtings in Noord-Kaap
Volgens nasionale verhoudingsdata het die Noord-Kaap die tweede meeste verkragtings, met 20,7 verkragtings per 100 000, ná die Oos-Kaap met 22,3 per 100 000 mense. Die algemeenste plek waar verkragting plaasvind, is in die huise van oortreders of slagoffers (134 sake).
Poging tot moord het met 31,5% van 426 tot 560 sake gestyg. Ernstige aanranding het met 8,1% van 1 458 tot 1 576 sake toegeneem.
Die syfer vir kontakmisdaad het met 6,7% tot 4 288 sake toegeneem. Die Frances Baard-distrik bly die grootste misdaadgebied en dra 42,8% (1 836 sake) tot die totale kontakmisdaad by.
Otola sê die polisie staan nie onaktief teenoor misdaadbekamping nie.
“Die polisie het die SAPS Herstel-agenda (Reset Agenda) in werking gestel, wat fokus op effektiewe polisiëring, groter sigbaarheid, strenger aanspreeklikheid, gemeenskaps- misdaadvoorkoming en om alkoholmisbruik te bestry.”
Limakatso Koloi, LUR vir vervoer en veiligheidskakeling, het haar kommer oor die vlakke van gewelddadige misdaad uitgespreek, veral dié wat teen vroue en kinders gepleeg word.
“Die algemene voorkoms van geslagsgebaseerde geweld en geweld teen kwesbare lede van die samelewing vereis gekoördineerde en daadwerklike optrede,” sê Koloi.
Mirriam Kibi, LUR vir vroue, kinders en mense met gestremdhede, sê seksuele aanrandings en misbruik van vroue en kinders is onaanvaarbaar.
LEES OOK: South Africa records drop in serious contact crimes






You must be logged in to post a comment.