IEC YouthVoteMatters, jongmense in De Aar.
Jeugdiges van De Aar tydens die OVK se veldtog by tersiêre instellings. FOTO: Facebook / Electorial Commission of South Africa (IEC)

OVK gereed vir registrasienaweek; moedig jeug aan om op te daag

IEC YouthVoteMatters, jongmense in De Aar.
Jeugdiges van De Aar tydens die OVK se veldtog by tersiêre instellings. FOTO: Facebook / Electorial Commission of South Africa (IEC)

Die Verkiesingskommissie (OVK) in die Noord-Kaap sê hy is slaggereed om duisende potensiële kiesers dié naweek – 20 en 21 Junie – by stemlokale oor die provinsie heen te verwelkom en as kiesers te registreer of besonderhede van vorige registrasie te bevestig of te wysig.

Hoewel die logistieke reëlings in plek is, is Elkin Topkin, provinsiale verkiesingsbeampte, bekommerd oor die lae getalle jong mense wat vir die komende plaaslike regeringsverkiesings geregistreer is. Dít vind op 4 November plaas.

Elkin Topkin, provinsiale verkiesingsbeampte van die OVK in die Noord-Kaap.
Elkin Topkin, provinsiale verkiesingsbeampte van die OVK in die Noord-Kaap. FOTO: Charné Kemp

Hy noop jong mense om die naweek in hul derduisende te registreer.

“Hoewel jeugdiges volgens Statistiek Suid-Afrika – 11 miljoen onder 30 jaar oud – die grootste deel van die bevolking uitmaak en wie se toekoms op die spel is, is bitter min geregistreer. In 2021 het 12 miljoen mense teen ‘n stempersentasie van 46% hul stemme uitgebring, wat toon hoe magtig die jeug se stem is.”

Statistieke toon dat minder as 2% van kwalifiserende 18- en 19-jariges in die Noord-Kaap tans geregistreer is. Slegs 16,9% van mense in die ouderdomsgroep 20 tot 29 jaar oud verskyn op die kieserslys.

“Om dié groep te bereik het ons verskeie inisiatiewe geloods wat veldtogte by skole en tersiêre instellings insluit, asook die gebruik van gewilde mediaplatforms soos die dokumentêre SABC-reeks Beats for My Peeps en integrasie met die TV-sepie Skeem Saam waarin die komende kiesersnaweek in die storielyn verskyn.”

Weeklikse programme word ook op gemeenskapradiostasies uitgesaai.

Die registrasienaweek is juis ook in Jeugmaand geskeduleer.

Stemlokale gereed om kiesers te ontvang

Die Noord-Kaapse kieserslys staan op 671 256 mense, ‘n aansienlike groei sedert 2000, maar Topkin wil steeds meer jeugdige kiesers sien registreer.

Die OVK se straatligplakkate met ‘n swart agtergrond en groen en blou kleure, wat mense aanmoedig om te registreer, toon nie die OVK se amptelike kleure nie, want “navorsing het bewys ons moet treffende kleure gebruik om jeugdiges se aandag te trek,” sê Topkin.

Mense kan ook aanlyn aansoek doen en registreer, terwyl die OVK ook ‘n doelftreffende WhatsApp-kanaal het.

Topkin sê hulle verwag nie veel protesaksie tydens die registrasienaweek nie. Dit is gewoonlik die tyd wanneer mense hul mening in die openbaar wil lug omdat die land se aandag op die komende verkiesing is.

“Die polisie is in kennis gestel van stemdistrikte, soos in die Sol Plaatje-munisipaliteit waar sommige wyksgrense verander het, wat dalk onmin mag uitlok. In die Joe Morolong-distrik het die Munisipale Afbakeningsraad verlede jaar hul nuwe afbakeningsgrense na die ou grense terugverander nadat die gemeenskap beswaar gemaak het.”

Hy maan kiesers om vanweë die verskuiwing van 89 wyke in die provinsie seker te maak dat hulle wel in die regte wyk geregistreer is.

Alle noodsaaklike materiaal vir die registrasienaweek is reeds by die provinsie se 739 stemlokale afgelewer. Altesaam 1 556 opgeleide personeellede en 274 areabestuurders sal ontplooi word om die proses te vergemaklik. Geen politieke party het beswaar teen die bestuurders gemaak nie.

Verder is 1 300 nuwe kiesersbestuurs-toestelle of “Voter Management Devices” (VMD) beskikbaar gestel om vinnige en akkurate vaslegging van kiesersbesonderhede te verseker, selfs in gebiede waar daar nie onmiddellike internetverbinding is nie. Die toestelle kan inligting op ‘n interne geheue berg totdat daar internetverbinding is om dit op die nasionale stelsel te laai.

Vind regte stemlokaal

Stemlokale sal Saterdag en Sondag van 08:00 tot 17:00 oop wees. Burgers moet hul groen staafkode-ID-boekie, slimkaart-ID of ‘n geldige tydelike identiteitsertifikaat saambring.

Terselfdertyd is die kantore van die departement van binnelandse sake ook dié naweek oop om mense met die verkryging van identifikasiedokumente by te staan.

Kiesers kan ook aanlyn registreer of hul besonderhede op die webwerf www.elections.org.za bywerk, waar ook gesien kan word in watter wyk geregistreer moet word, en waar die stemlokaal is.

Die WhatsApp nommer is 0600 880 000 en die OVK het ook ‘n teenwoordigheid op Facebook, Instragram, X, TikTok en YouTube.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article