Jong mense het die afgelope naweek in die eerstekeerregistrasie-afdeling oorheers deurdat 80% van nuwe registrasies op die kieserslys, met die oog op die plaaslike regeringsverkiesing op 4 November, deur jeugdiges gedoen is.
Die Verkiesingskommissie (OVK) het Maandagmiddag na afloop van die registrasienaweek gesê altesaam 477 174 nuwe registrasies het plaasgevind, waarvan 379 767 in die ouderdomsgroep 16 tot 29 jaar is.
“Die syfers dui daarop dat die jeug-gefokusde veldtog aanklank by jongmense vind en dat jongmense glad nie apaties is nie,” sê die OVK.

Volgens die kommissie is altesaam 2,9 miljoen registrasie-verwante transaksies die afgelope naweek oor die land heen gedoen.
Dit is ‘n groot toename in vergelyking met die soortgelyke tweedag-tydperk voor die 2021 plaaslike regeringsverkiesings, toe 1,7 miljoen transaksies plaasgevind het.
LEES OOK: OVK gereed vir registrasienaweek; moedig jeug aan om op te daag
Wat betref die afgelope naweek se transaksies het nagenoeg 2,4 miljoen kiesers hul besonderhede op die kieserslys bevestig of verander.
Met die nuwe registrasies ingesluit het die kieserslys na 28,5 miljoen geregistreerde kiesers gegroei.
Volgens Statistiek Suid-Afrika se bevolkingsraming middel 2025 het Suid-Afrika nagenoeg 63 miljoen landsburgers, waarvan sowat 16,5 miljoen in die ouderdomsgroep val wat nog nie stemgeregtig is nie.
Dit beteken dat ongeveer 18 miljoen stemgeregtigdes nié geregistreer is nie, waarvan etlike miljoene jeugdiges is.
Die OVK sê egter sy twee hoofdoelwitte is die afgelope naweek bereik: die voorgesette groei van die nasionale kieserslys en ‘n verbeterde registrasie-opbrengs onder jongmense.
Registreer in wyk waar jy woon
In die Noord-Kaap het 16 956 eerstekeerregistrasies plaasgevind, en 66 342 bywerkings of bevestigings van besonderhede.
In sy registrasieveldtog het die OVK die belangrikheid beklemtoon dat kiesers registreer in die wyk waarin hulle woon aangesien kiesers met ‘n plaaslike regeringsverkiesing nie by ‘n ander stemlokaal kan stem as waar die registrasie plaasgevind het nie.
Altesaam 739 stemlokale was die afgelope naweek oor die Noord-Kaap heen aktief – 32% hiervan was by skole, 22% by gemeenskapsale, 3% by staatsinstellings, 19% op plase, 16% by kerke, 2% in tente, en 6% by ander liggings.
As ‘n bykomende geleentheid vir landsburgers om te registreer of besonderhede op datum te bring, is ‘n tweede nasionale kieserregistrasienaweek reeds vir 1 en 2 Augustus skeduleer.
Suid-Afrikaners hoef nie tot dan te wag om te registreer of besonderhede na te gaan of te verander nie:
- Besoek die OVK se webwerf by elections.org.za om binne minute aanlyn te registreer of besonderhede na te gaan of te verander.
- ‘n WhatsApp-boodskap kan ook na 060 088 0000 gestuur word, of ‘n SMS (teen R1 per SMS) kan na 32810 gestuur word.
“Get up, show up,” sê die OVK. As jy nie op die kieserslys is nie, kom jy nie in aanmerking om jou stem te laat hoor nie.





You must be logged in to post a comment.