Die jaarlikse Mokala-boskonsert, wat reeds die afgelope 11 jaar in die Mokala- Nasionale Park kort duskant Kimberley aangebied word, het so gewild geword dat 2027 se konsert reeds uitverkoop is nog voordat dit behoorlik geadverteer is.
Dit word jaarliks deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Parke (SANParke) se Ereveldwagters in die Vrystaatstreek aangebied om onder meer die park se inkomste aan te vul, ‘n bydrae tot bewaring in die park te lewer, en om die park te bemark.
‘n Verdere doel van die konsert is om Mokala- Nasionale Park te bemark.
Konsert bied wenkombinasie
“Met dié dat 2027 se konsert reeds uitverkoop is, kon van ons lojale ondersteuners nie plek kry nie. Daarom is besluit om ‘n tweede konsert aan te bied,” sê Ina Leamy van die Ereveldwagters.
Dié tweede konsert word vir die naweek van 13 tot 15 November vanjaar beplan.

Gaskunstenaars vir die konsert is Arco Musica, ‘n groep van Bloemfontein, onder leiding van Arend Brink. Gaste sal na ‘n verskeidenheid musiekgenrés kan luister, met instrumentale en vokale gunstelinge. Dit sluit onder meer temamusiek van “The Lion King” en “Lord of the Dance” in.
“Dit is ‘n wenkombinasie van lekker kuier, geurige kos en mooi musiek onder die Noord-Kaapse sterrehemel,” sê Leamy.
Pakkette, waarvan die pryse bepaal word deur die verblyf wat gekies word, sluit in verblyf vir twee aande vir twee persone, ‘n vleisbraaigeselligheid die Vrydagaand, en ‘n ete en konsert die Saterdagaand.
LEES OOK: Daguitstappie na Mokala: ‘Om die draai om jou siel kos te gee’
Verblyf is nog in die Motswedi-boomhuis beskikbaar, in chalets in Mosu- en Lilydale-ruskampe, asook kampeerplek by Motswedi en Haak-en-steek.
Die nuutste toevoeging tot verblyfmoontlikhede in Mokala is luukse kamers met en-suite badkamers by Imbasa Lodge, waar ‘n swembad en sitkamer ook beskikbaar is.
Gaste kan na hartelus in die park rondry om onder meer buffels, gemsbokke, koedoes, wildebeeste, basterhartbeeste, rooihartbeeste, bastergemsbokke, sebras en kameelperde te sien. Met meer as 150 voëlspesies is die park ook ‘n voëlkyker se droom, met onder meer die breëkop- en visarend wat daar tuis is.
- Kontak Susan Esterhuizen (083 262 6148 of by susan.esterhuizen2023@gmail.com) of Leamy (082 202 4202 of ina@sanparksvolunteers.org) om meer uit te vind of te bespreek.







You must be logged in to post a comment.