KIMBERLEY – Ná jare se betogings, protes-aksie en griefskrifte aan die Sol Plaatje-munisipaliteit in Kimberley het die Kimberley Action Group (KAG) as ʼn politieke partye geregistreer om aan die komende munisipale verkiesing deel te neem.
Die party se bekendstelling het verlede week plaasgevind.
Volgens Boyce Makodi, stigter, koördineerder en voorsitter, wil hulle plaaslike regering deur meer as net openbare druk, optogte, petisies en gemeenskap-“stakings” tot verantwoording roep.

“Ons het geen ander keuse as om self die leisels van plaaslike regering oor te neem nie. Ons het opgeruk, geprotesteer, vreedsame stakings georganiseer en griefskrifte ingedien. Die mense het alles gedoen wat die demokrasie van verantwoordelike burgers verwag, dog min het verander. Ons kan nie die amptenare en ampsdraers wat die probleme geskep het, vra vir oplossings nie. Inwoners moet die oplossing word.”
LEES OOK: ‘As een val, staan tien op’: Aktiviste teen ‘tenderpreneurs en politiekery’
Makodi sê KAG is ’n onafhanklike gemeenskapsbeweging wat nie “opdragte van partyhoofkwartiere honderde kilometers hiervandaan neem nie, maar verantwoording aan inwoners van Kimberley doen.”
Inwoners van Kimberley worstel reeds jare lank met die agteruitgang van basiese munisipale dienste, herhalende rioolstortings, stygende elektrisiteitskoste en onbetroubare water- en kragvoorsiening.
In sy amptelike verklaring verduidelik die party sy hoofoogmerke. KAG beplan die instelling van ’n onafhanklike Sol Plaatje Kommissie van Ondersoek om bewerings van korrupsie, tender-onreëlmatighede, nepotisme, bevoordeling van buite-maatskappye en die onregverdige afdanking of intimidasie van fluitjieblasers te ondersoek.
Dit is nie normale leefwyse nie
Die party sê hy weier om verstopte rioolpype en onbetroubare dienste as ‘n normale leefwyse te aanvaar.
“Ons fokus op skoon strate, werkende sanitasie, betroubare vullisverwydering en skoon drinkwater.”
Nog ʼn knelpunt is bekostigbare elektrisiteit. Die party gaan wettige weë ondersoek om die finansiële druk van hoë elektrisiteitskoste op huishoudings, pensioenarisse en kleinsakeondernemings te verlig.
Munisipale kontrakte en infrastruktuurontwikkeling moet plaaslike klein- en medium besighede bevoordeel sodat die ekonomiese waarde en werksgeleenthede in Kimberley bly.
KAG werk saam met geloofsleiers en -instellings om die moraal van die gemeenskap te herstel, en om misdaad, dwelmmisbruik en jeugwerkloosheid en gevolglike moedeloosheid op te los.
Die beweging dring aan op streng optrede teen georganiseerde misdaad, dwelmbase en onwettige immigrasie om buurte weer veilig te maak.
Makodi sê hul veldtog is “groter is as net ‘n politieke party, dit behoort aan elke inwoner wat moeg is vir leë beloftes.
“Daar kan geen blywende hernuwing wees sonder aanspreeklikheid nie, en geen aanspreeklikheid kom sonder ‘n onafhanklike ondersoek nie. Ons soek nie wraak nie, net die waarheid,” sê Makodi.
LEES OOK: Kimberley Shutdown on Monday confirmed despite fake news that it was cancelled






You must be logged in to post a comment.