Vrydag se verwagte aanhoor van Bentley Vass, Noord-Kaapse LUR van samewerkende regering, se hofaansoek om verskeie kwessies rakende die Sol Plaatje-munisipaliteit, is uitgestel glo omdat die premier as party bygevoeg moet word.
Die LUR se hofaansoek gaan daaroor om ’n raadsvergadering en ’n begroting van die Sol Plaatje-munisipaliteit in Kimberley wat ter tafel gelê is nietig te verklaar, en ’n teenaansoek van die munisipaliteit om Vass se artikel 139-ingryping as onreëlmatig te verklaar.
Intussen, buite die hof, het ‘n skermutseling op die sypaadjie van die hooggeregshof uitgebreek tussen ‘n persoon wat as “tenderpreneur” uitgekryt is, en gemeenskapsaktiviste wat met plakkate betoog het. Polisielede moes tussenbeide tree en ‘n vrou wat glo eerste ‘n oorveeg wou uitdeel, wegsleep. Die strydende partye het ‘n ruk lank op mekaar geskree.
LEES OOK: Kimberley se politieke chaos brei uit: Stakings; nog hofsake; vyf uitgeskop
Die Kimberley Action Group-aktiviste en munisipale werkers, van wie die meeste staak weens hul teenkanting van die provinsie se ingryping, het aanvanklik vreedsaam buite die hof betoog.
Vrees uitgespreek
Hul grief is teen die provinsiale ingryping by die raad en vrese is uitgespreek dat hulle soos ander aktiviste vermoor mag word. “Dit sal nie help nie, as een van ons val, staan tien op,” het Boyce Makodi van die Kimberley Action Group aan teenwoordiges gesê.
Daar is met skok verwys na onlangse voorvalle waar aktiviste elders in die land “wreed vermoor is, een wat 12 keer geskiet is en ‘n ander wat met 17 skote doodgeskiet” is.
“Maar ons sal nie stilbly of omgekoop word met kospakkies nie. Kiesers moet vir hulself begin dink, ek smeek julle.”

Volgens Makodi is die besluit om die munisipaliteit onder administrasie te plaas polities gedrewe en word dit deur tenderpreneurs gedryf wat hul hande op die munisipale geldkis wil lê.
Die betogers voer aan die provinsiale ingryping is ‘n “berekende poging deur die provinsiale regering om beheer oor die munisipaliteit se administrasie en bankrekeninge te verkry.”
Dit is glo slegs daarop gemik om geld vir die ANC se komende verkiesingsveldtog te bekom. Makodi voer aan verlede jaar toe hy ‘n Artikel 139-ingryping aan die ANC voorgestel het, was hulle daarteen gekant.
“Hoekom nou, so kort voor die verkiesing?”
Jare se swak dienslewering lei tot optrede
Die aktiviste sê hul optrede spruit uit jare se swak dienslewering. Van die griewe wat geopper is, is swak vullisverwydering en dat die strate met rommel besaai is. Riool wat oral in woonbuurte stroom ontneem mense van hul waardigheid.
“Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie het die rioolprobleme in Kimberley as ‘n mensgemaakte ramp verklaar,” sê Makodi.
“Ek wil nie eens vir dr. Zamani Saul, premier, agbaar noem nie. Niks van sy beloftes word waar nie. In 2021 het hy R500 miljoen beloof vir die herstel van paaie en sanitasieinfrastruktuur, maar daardie geld het soos mis voor die son verdwyn. En Kimberley lyk slegter as ooit”

Saul is uitgekryt as ‘n vals Thomas Sankara*.
“Die munisipaliteit is onder beleg van tenderpreneurs se persoonlike agendas. Die stadsbestuurder het byvoorbeeld met ‘n vorige waterafsluiting vir herstelwerk, geweier om ‘n opgeblaasde faktuur vir waterdienste goed te keur, wat hul stryd teen ons persoonlik maak.”
Aktiviste se woede kook boonop oor ‘n beplande 8%-styging in elektrisiteitstariewe wat op 1 Julie in werking tree, sonder dat daar behoorlike konsultasie met die gemeenskap was.
Die groep eis dat die plaaslike ekonomie vir “plaaslike inwoners gereserveer moet word”.
Hulle versoek onwettige buitelanders om die stad te verlaat en voer aan kritieke infrastruktuur en besighede moet deur Suid-Afrikaners besit en bestuur word.
“Ons sal voortgaan om in die strate te betoog, die stad tot stilstand te dwing totdat daar na ons eise geluister en korrupte amptenare verwyder word. Hierdie stad behoort aan ons, nie aan die politici nie,” het Makodi gesê.
*Sankara het in sy kort termyn as president van Burkina Faso (1983–1987) ongekende sosio-ekonomiese hervormings teweeggebring deur die land se naam van die koloniale Bo-Volta te verander. Hy het ‘n massiewe inentingsveldtog geloods wat miljoene kinders teen dodelike siektes beskerm het, ‘n indrukwekkende verhoging in die geletterdheidskoers van 13% tot oor die 70%, en grondhervormings wat landbouproduksie verdubbel het sodat die land voedselonafhanklik kon word. Hy was ‘n baanbreker vir vroueregte deur gedwonge huwelike en vroulike genitale verminking te verbied, terwyl hy ook meer as 10 miljoen bome teen woestynvorming laat plant het, terwyl hy self ‘n beskeie, korrupsievrye leefstyl gelei het.






You must be logged in to post a comment.