KIMBERLEY – Die inwoners en belastingbetalers van die beleërde Sol Plaatje-munisipaliteit in Kimberley word weer eens gedwing om pa te staan vir nóg regskoste in ‘n stryd wat opposisiepartye en ander ingeligtes beweer is die regerende party se stryd om beheer oor die “munisipale geldkoffers” te kry voor die plaaslike verkiesing wat op 4 November plaasvind.
Dit volg op die nuus dat die LUR van samewerkende regering dié munisipaliteit op 2 Mei onder administrasie gaan plaas en oorneem, en ‘n beplande dringende interdik-aansoek daarteen.
Die Institute of African Royalty (IAR) het verlede maand ‘n aansoek by die hooggeregshof in die stad teen die munisipaliteit, speaker, burgemeester, premier, asook LUR en minister van samewerkende regering ingedien om die munisipaliteit onder administrasie te plaas. Dit word deur die munisipaliteit en Thapelo Matlala, munisipale bestuurder, teengestaan. Dié interdik-aansoek wat op Donderdag 30 April aangehoor sou word, is tot 15 Mei uitgestel sodat repliserende verklarings ingedien kan word.
Die IAR wil met sy aansoek die munisipaliteit “stabiliseer en verseker dat hy sy grondwetlike en statutêre verpligtinge nakom”.
Van die verweerders beweer die IAR het nie die regsbevoegdheid om dié aansoek te bring nie, en is sy bewerings oor swak bestuur en dienslewering sonder bewyse en gegrond op spekulasie.
Intussen wil Bentley Vass, LUR van samewerkende regering, ingevolge Artikel 139(1)(b) van die Grondwet by die munisipaliteit ingryp, waarvolgens ‘n Provinsiale Uitvoerende Verteenwoordiger en ‘n span van vier kundiges op 2 Mei beheer oor die munisipaliteit neem.
Wil oorname met dringende interdikaansoek stuit
Volgens ingeligte bronne het die munisipaliteit onder leiding van Matlala reeds met regstappe begin om dié oorname met ‘n dringende interdikaansoek te stuit “om die munisipaliteit te red”.
Matlala, wie se kontrak oor net meer as ‘n jaar verstryk, het drie jaar gelede ‘n suksesvolle aansoek by die Tesourie gedoen om ‘n Begroting vir Infrastruktuur-toelae van R2,8 miljard te bekom om die stad se waterinfrastruktuur op te knap. Heelwat werk is reeds gedoen, maar ingeligtes beweer dit is dié geld waarop sekere partye voor die verkiesing hul hande wil lê.
LEES OOK: Wanorde in Sol Plaatje-munisipaliteit: LUR-ingryping misluk te midde van chaos
Die uitgerekte sage spruit uit Dipuo Peters, speaker, en Martha Bartlett, burgemeester, se vroeëre onsuksesvolle regsgedinge om Matlala weens bewerings van korrupsie uit te boender nadat die tugproses verstryk en hulle ‘n tweede onreëlmatige poging aangewend het om hom te skors. Matlala het ‘n verklarende hofbevel verkry om terug te keer werk toe nadat die betrokke twee ampsdraers eers hul appèlaansoek teruggetrek en toe heringestel het. Dit is gevolg deur talle mislukte raadsvergaderings en Vass se dreigemente van administrasie.
‘Raad is onkapabel’ om onwettige besluite te neem
Adv. Thobile Komazi, provinsiale voorsitter van die IAR, beskryf die voorafgebeure in sy funderende verklaring. Hy tree in openbare belang op en wil keer dat die munisipaliteit, “verlam word”. Hy voer aan die Raad is onkapabel om wettige en bindende besluite te neem, veral oor die “status van die stadsbestuurder” en die aanvaarding van die jaarlikse begroting. Die bestuurskrisis hou volgens hom ‘n direkte bedreiging in vir inwoners, lewering van noodsaaklike dienste en regmatige administrasie. Hy wil wetlike bestuur herstel, die raad help om weer effektief te funksioneer, en verhoed dat dienslewering en bestuur verder verswak.
Op sy webwerf verklaar die IAR hy is ‘n nie-regeringsorganisasie wat hom toewy aan die bevordering en bewaring van die rol van Afrika-koninklikes en tradisionele leierskap.
“Gewortel in die tradisies en erfenis van ons kontinent, dien die IAR as ‘n baken van eenheid, ontwikkeling en kulturele integriteit. Ons werk oor Afrika heen om inheemse kennisstelsels te handhaaf, landelike uitdagings die hoof te bied, en die voortou te neem met sosio-ekonomiese opheffing. Ons vennote sluit tradisionele leiers, akademiese instellings, ontwikkelingsagentskappe en globale belanghebbendes in, almal verenig in ‘n gedeelde missie om ‘n welvarende en waardige Afrika te bou.”
‘Bewerings van swak dienslewering vaag, spekulatief’
In die hofsitting van 30 April het adv. Johan Olivier namens die stadsbestuurder aangevoer die IAR het geen dringendheid óf prima facie handelsbevoegheid (locus standi) om dié aansoek te bring nie. Hulle kan nie steun op die beweerde oortreding van ‘n Artikel in die Handves van Menseregte om te toon watter belang hulle by die munisipale funksionering het nie.
Matlala, wat skynbaar sonder verdere teenstand ses weke lank terug op kantoor is, sê in sy beëdigde verklaring die aansoeker kan nie toon watter onherroeplike skade hy sal ly as die munisipaliteit nie onder administrasie geplaas word nie. Bewerings soos swak dienslewering word nie met werklike bewyse gestaaf nie, en is vaag en spekulatief.
Die meerderheid raadslede het vanweë die LUR se vroeëre aanmaning ‘n spesiale raadsvergadering met ‘n petisie belê om die begroting en ander kwessies ter tafel te lê omdat die speaker dit geweier het. Die spesiale raadsvergadering is op 17 April gehou, ondanks die speaker se dringende mislukte interdikaansoek om dit te keer.
LEES OOK: ANC eis dringende ingryping by Sol Plaatje-munisipaliteit weens ‘onwettige’ optrede
Matlala vind dit uiters vreemd dat die prokureursfirma wat tot nou in opdrag van die speaker en burgemeester in aansoeke om hom as stadsbestuurder uit die kussings te lig, sonder sy amptelike toestemming briewe namens die munisipaliteit aan die IAR skryf. Hierin beaam die firma die sogenaamde “onregeerbaarheid en wanfunksionaliteit” van die munisipaliteit en verklaar dat Matlala “weens hangende tugprosesse nie wetlik die stadsbestuurder is nie”.
Volgens Matlala is die IAR oneerlik as hy verklaar dat die “wanfunksionele bestuur” hom bekommer, en dat hulle eintlik sy amp as stadsbestuurder bevraagteken en van hom ontslae wil raak.




