Hoogste Hof bevind verlamde vrou se eis vir skadevergoeding geldig

Hofsake

Hoogste Hof bevind verlamde vrou se eis vir skadevergoeding geldig


BLOEMFONTEIN – Die Hoogste Hof van Appèl in Bloemfontein het in die guns van ‘n vrou van Kimberley beslis wat aanvoer sy is permanent verlam gelaat ná ‘n akupunktuurbehandeling en gevolglik ‘n skadevergoedingseis wil instel.

Die Appèlhof het ‘n vorige beslissing van die Hooggeregshof tersyde gestel en bevind die vrou se skadevergoedingseis teen ‘n chiropraktisyn en akupunktuur-praktisyn het nie verjaar nie.

Die saak spruit uit gebeure in September 2015 toe dr. Estelle Gouws akupunktuur aan Aletta Johanna Barnard in Kimberley vir laer rugpyn toegedien het.

Luidens hofdokumente is Barnard op 1 Oktober 2015 in die Kimberley MediClinic met hoë koors, erge rugpyn, verlamming en urieneretensie opgeneem. ‘n Dringende rugoperasie is gedoen om infeksie om die rugmurg te verwyder, maar sy is met permanente neurologiese skade ontslaan.

Sy beweer die praktisyn was nalatig en het nie voldoende sterilisasie toegepas nie.

LEES OOK: Slagoffer van beweerde verkragting in hospitaal ‘benadeel’ deur sterk medikasie

Gouws het die bewerings ontken en ‘n spesiale pleit geopper dat die eis verjaar het omdat die dagvaarding van September 2018 nie behoorlik beteken is voordat die driejaar-verjaringstydperk verstryk het nie.

Die Hooggeregshof in Pretoria het vantevore die spesiale pleit gehandhaaf en Barnard se eis van die hand gewys.

Appèlregter K.E. Matojane (met appèlregter Y. Mbatha wat saamgestem het) het bevind die betekening van die dagvaarding by die woonadres wat deur Gouws se regspan verskaf is, ‘n regsgeldige en effektiewe betekening was; die eis het dus nie verjaar nie.

Die Appèlhof het die uitspraak oor die spesiale pleit van die hand gewys en die saak na die Gauteng Afdeling van die Hooggeregshof terugverwys sodat die meriete van die eis voor ‘n ander regter aangehoor kan word.

LEES OOK: Staatsaanklaer aanspreeklik vir skadevergoeding ná onregmatige inhegtenisname

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article