Henderson-verhoor: Vriendin verander glo getuienis ná ondertekening daarvan

John-Ross Henderson Vrydag in die verhoor.
John-Ross Henderson Vrydag in die verhoor. FOTO: Charné Kemp

Henderson-verhoor: Vriendin verander glo getuienis ná ondertekening daarvan


Soos voorheen in die verhoor van John-Ross Henderson, wat van die moord op Jason Afrique en poging tot moord op Mickayla Afrique aangekla word, is sy regsverteenwoordiger Vrydag 24 Julie deur die regter in die hooggeregshof in Kimberley gemaan om die waardigheid van die hof te respekteer.

Herholdt Robertson, regsverteenwoordiger, het verskoning gevra nadat hy die getuie, ao. Nelda Lotter, ondersoekbeampte, van “leuens in haar getuienis” beskuldig het. Dit gekom nadat die staatsaanklaer, adv. Theuns Barnard, beswaar aangeteken het.

Die Afrique-egpaar is op die aand van 31 Julie 2024 in hul bakkie voor die hek van hul woonkompleks in Blackstraat aangeval. Jason het oor sy vrou in haar passasiersitplek geval en gesterf om haar teen die meer as tien koeëls te beskerm wat op ʼn kort afstand geskiet is. Die skote het van die passasierskant gekom waar Mickayla gesit het. Sy is kort daarna vir glasstukke in haar gesig en oog behandel.

Die staat voer aan Henderson het sy selfoon op die toneel laat val, en die volgende dag glo ʼn vals verklaring aan die polisie gemaak dat sy selfoon by ʼn vulstasie vermis geraak het. Hy het glo ʼn werknemer by die vulstasie genader om die datum en tyd op die videomateriaal te wysig. Henderson word ook aangekla op twee aanklagte van regsverydeling.

Beeldmateriaal dui tyd aan

Die skietery het daardie aand tussen 20:41 en 20:43 plaasgevind. Videomateriaal toon Henderson het omstreeks 22:26 by die vulstasie aangekom waar hy glo sy selfoon verloor het.

Lotter het getuig oor onder meer foto’s en beeldmateriaal van sekuriteitskameras wat sy as deel van die ondersoek bestudeer het. Die beeldmateriaal behels die omgewing rondom die hoek van Longstraat en Waterwerkeweg in Kimberley waar Henderson beweer hy iemand daardie aand opgelaai het, asook die Engen-vulstasie in Schmidtsdrifweg waar hy glo die persoon afgelaai het. Dit is by dié vulstasie waar hy na bewering sy selfoon verloor het.

LEES OOK: Henderson-verhoor: Selfoon eerste keer in hof as bewysstuk

Lotter het onsuksesvol probeer om beeldmateriaal van die kafee by ʼn ander vulstasie in dieselfde straat te verkry waar die oorledene en sy vrou vroeër die aand eetgoed gekoop het.

Getuie onderteken verklaring

Britney van der Merwe, Henderson se vriendin, het ook vroeër getuig. Haar getuienis in die hof het glo verskil van die verklaring wat sy afgelê het. Volgens Lotter erken Van der Merwe sy het foto’s van voertuie wat Henderson aan haar gestuur het, ook aan Lotter gestuur. Lotter kon nie bevestiging hiervan op Van der Merwe se foon kry nie, maar het haar eie foon in die hof gebruik om die datum en tyd van die boodskap te bevestig.

Volgens Lotter het sy Van der Merwe tesame met twee ander vroulike polisiebeamtes genader om ʼn verklaring af te lê. Van der Merwe was emosioneel en het gesê Henderson en sy vrou poog om hul huwelik te red en dat sy nie betrokke wil wees nie.

Drie maande later het Lotter weer gepoog om ʼn verklaring van Van Der Merwe te verkry. Op 17 Julie 2025 het sy Van der Merwe saam met haar prokureur by die Nasionale Vervolgingsgesag se kantoor ontmoet. Lotter het die verklaring per hand afgeneem. Van der Merwe was tevrede met die eedsverklaring, het dit onderteken en gesê sy verstaan die inhoud en dat dit bindend op haar gewete is. Daarna het Van der Merwe ʼn afskrif daarvan gekry. Van der Merwe het daarna om 15:03 die foto’s aan Lotter gestuur, het Lotter getuig.

Robertson het dit in kruisondervraging gestel dat Van der Merwe getuig het Lotter het haar met inhegtenisneming en 48-uur aanhouding gedreig en gedwing om die verklaring in haar (Lotter) se woorde af te lê. Lotter het die stellings ontken.

Vuurwapen nie met Henderson verbind

Die vuurwapen wat op Henderson, ʼn voormalige polisiebeampte, met sy inhegtenisname gevind is, kan nie met die patroondoppies wat op die toneel gevind is, verbind word nie. Geen DNS is op die doppies gevind nie en die DNS-monsters van die sigaretstompies op die toneel behoort nie aan die beskuldigde nie.

Robertson het verwys na “foute in verskillende verklarings” waarin Lotter sê vingerafdrukke is op die foon se omhulsel gevind terwyl dit nie so is nie. Op een van die polisieverklarings is die foon voor die bakkie, en nie onder die bakkie gevind nie. Die selfoon is inderwaarheid onder die bakkie gevind.

LEES OOK: Weduwee getuig oor aand waarin haar man in koeëlreën sterf

Lotter wat nooit op die misdaadtoneel was nie, het later die ondersoek oorgeneem. Sy steun op ander polisielede se verklarings, en kon moontlik hul foute herhaal het.

Die polisie kon geen bruikbare inligting van die selfoon op die toneel vind nie. Volgens die polisie se kubermisdaadeenheid kan data van ʼn selfoon oor ʼn fisieke afstand afgevee word.

Lotter kon geen vordering maak met Henderson se stelling dat hy die oorledene vroeër in ʼn geveg met ander mense gesien het nie.

Aanvanklik kon die vulstasie-eienaars nie vir Lotter die kwitansie van die oorledene se aankoop op die betrokke aand gee nie, maar dit het later wel aan die lig gekom. Robertson het haar herhaaldelik gepols waarom die strokie eers later te voorskyn gekom het.

Regsverteenwoordiger gemaan

Regter Violet Phatsoane het Robertson gemaan om nie die getuie in die rede te val terwyl sy besig is om te antwoord nie.

Robertson het herhaaldelik vrae gestel oor hoekom die staat na aanvang van die verhoor “nog ondersoek gedoen het” en aangevoer dit benadeel sy kliënt. Hy het bly hamer op die vrae, waarop Barnard beswaar gemaak het.

Die regter het aan Robertson gesê dis die hof se diskresie om te bevind of die beskuldigde ʼn regverdige verhoor gehad het of nie. Nie die getuie nie.

Vroeër verlede week het Barnard ook beswaar gemaak oor Robertson se “sarkastiese optrede”. Robertson se verweer was dat hy die betrokke getuie se antwoorde “amusant” gevind het.

Die verhoor is tot 3 Augustus uitgestel.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article