Henderson-verhoor | Getuies ‘stel nie belang om vir verdediging te getuig’

John-Ross Henderson
John-Ross Henderson Dinsdag in die hofsaal. FOTO: Charné Kemp

Henderson-verhoor | Getuies ‘stel nie belang om vir verdediging te getuig’


KIMBERLEY – Die verhoor van John-Ross Henderson, wat aangekla word dat hy Jason Afrique in 2024 in sy voertuig doodgeskiet en Afrique se vrou Mickayla beseer het, bereik ‘n nuwe fase nadat die staat Dinsdag 20 Oktober sy saak in die hooggeregshof in die stad gesluit het.

Die verdediging het aangedui hy sal getuies roep, en die beskuldigde mag moontlik ook getuig.

Afrique en sy vrou is op die aand van 31 Julie 2024 in hul bakkie voor die hek van hul woonkompleks in Blackstraat aangeval. Jason het oor sy vrou in haar passasiersitplek geval en gesterf om haar teen die meer as tien koeëls te beskerm wat op ‘n kort afstand geskiet is. Die skote het van die passasierskant gekom waar Mickayla gesit het. Sy is kort daarna vir glasstukke in haar gesig en oog behandel.

Die skietery het daardie aand tussen 20:41 en 20:43 plaasgevind.

LEES OOK: Weduwee getuig oor aand waarin haar man in koeëlreën sterf

Die staat voer aan Henderson het sy selfoon op die toneel laat val, en die volgende dag glo ‘n vals verklaring aan die polisie gemaak dat sy selfoon by ‘n vulstasie vermis geraak het. Hy het glo ‘n werknemer by die vulstasie genader om die datum en tyd op die videomateriaal te wysig.  Henderson word ook op twee aanklagte van regsverydeling aangekla.

Hoorsê-getuienis toegelaat

Adjunkregterpresident Violet Phatsoane het Dinsdag in haar uitspraak die staatsaanklaer, adv. Theuns Botha, se aansoek om hoorsê-getuienis toe te laat, in “belang van geregtigheid” toegestaan.

Die getuienis ter sprake is van ‘n vroulike getuie wat beweer Henderson het haar voor die voorval gevra wat Afrique se woonadres is en gesê “hy wil hom ‘n les leer”.

Herholdt Robertson, regsverteenwoordiger wat namens Henderson optree, wil twee staatsgetuies herroep en drie van die oorledene se familielede wat nie getuig het nie. Volgens die ondersoekbeampte stel sommiges van hulle “nie belang” om vir die verdediging te getuig nie.

Dit beteken hulle sal gedagvaar moet word om in die getuiebank in te skuif.

Intussen wil die eienaar van die paneelklopperonderneming waar Afrique se bakkie herstel is, eers met sy eie prokureur praat voordat hy dit sal oorweeg om die werknemer wat die voertuig herstel het, beskikbaar te maak om te getuig.

Robertson wil uitpluis wat die skade aan die voertuig was en watter onderdele vervang is. Hy wil ook na notas en ‘n verklaring van ‘n ondersoekbeampte kyk wat met ‘n informant gepraat het. As die staat sy versoek weier, sal hy ‘n hofaansoek bring.

Die saak duur voort.

LEES OOK: Henderson-verhoor: Vriendin verander glo getuienis ná ondertekening daarvan

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article