John Ross Henderson in die hof met Herholdt Robertson, sy regsverteenwoordiger.
John Ross Henderson praat Maandag in die hof met Herholdt Robertson, sy regsverteenwoordiger. FOTO: Charné Kemp

Henderson-verhoor: Selfoon eerste keer in hof as bewysstuk

John Ross Henderson in die hof met Herholdt Robertson, sy regsverteenwoordiger.
John Ross Henderson praat Maandag in die hof met Herholdt Robertson, sy regsverteenwoordiger. FOTO: Charné Kemp

Die veelbesproke selfoon wat die polisie onder die bakkie van Jason Afrique gevind het op die aand waarin hy doodgeskiet is en sy vrou, Mickayla, oorleef het, is Maandag vir die eerste keer in die hooggeregshof in Kimberley as bewysstuk gesien.

Volgens die staat behoort die selfoon aan John Ross Henderson wat aangekla word van moord, poging tot moord en twee aanklagte van regsverydeling. Henderson het glo drie selfoonnommers gehad in die tydperk voor die skietvoorval in Julie 2024 in New Park, Kimberley.

Henderson het ure ná die moord sy selfoon as gesteel of verlore by ‘n vulstasie etlike kilometer van die moordtoneel aangemeld, wat die staat meen ‘n poging is om die polisie om die bos te lei.

Die Afrique-egpaar is op die aand van 31 Julie 2024 in hul bakkie voor die hek van hul woonkompleks in Blackstraat aangeval. Jason het oor sy vrou in haar passasiersitplek geval en gesterf om haar teen die meer as tien koeëls te beskerm wat op ‘n kort afstand geskiet is.

Die staat voer aan Henderson het sy selfoon op die toneel laat val, en die volgende dag glo ‘n vals verklaring aan die polisie gemaak dat sy selfoon by ‘n vulstasie vermis geraak het. Hy het ook glo ‘n werknemer by die vulstasie genader om die datum en tyd op die videomateriaal te wysig.

Daardie aand het die skietery tussen 20:41 en 20:43 plaasgevind. Videomateriaal toon Henderson het omstreeks 22:26 by die vulstasie aangekom waar hy glo sy selfoon verloor het.

Selfoon behoort aan Henderson

Sers. Bernard Sebegilwe, eerste ondersoekbeampte van die saak, het Maandag 20 Julie onder kruisondervraging getuig hy het self die selfoon na die polisie se kubermisdaadeenheid vir ontleding geneem, maar hulle kon dit nie ontleed nie omdat al die data afgevee was. Hy het onverrigte sake na Kimberley teruggekeer. Hy het egter ‘n lasbrief bekom wat die selfoondiensverskaffer gedwing het om data van oproepe en boodskappe gemaak en ontvang vanaf die selfoon te analiseer.

Die ondersoekbeampte se gebruik van die Wet op die Regulering van die Onderskepping van Kommunikasie en Verskaffing van Kommunikasie-verwante Inligting (die Rica-wysigingswetsontwerp) het getoon die handstuk behoort aan Henderson.

LEES OOK: Weduwee getuig oor aand waarin haar man in koeëlreën sterf

Herholdt Robertson, namens Henderson, het aangedring dat die selfoon in die hofsitting getoon word. Hy het die verseëlde sak in die ope hof oopgemaak en die handstuk aan die getuie getoon wat die handstuknommer in die rekord ingelees het. Adv. Theuns Barnard, aanklaer, het ook ‘n foto van die agterkant en voorkant van die selfoon geneem.

Sebegilwe weet nie wat van die selfoon se omslag geword het nie. Die omslag is op die toneel afgehaal om vir vingerafdrukke op die agterkant van die selfoon te soek.

Misdaadtoneel ‘gekontamineer’

Robertson het Sebegilwe gepeper met vrae oor die versameling, verseëling en ontleding van bewysstukke. Sebegilwe was nooit die aand op die misdaadtoneel nie, en moes in die eerste van vele mislukte borgtogaansoeke op kollegas wat op die toneel was se verklarings steun vir sy getuienis.

Die verdediging voer aan die toneel was gekontamineer, wat Sebegilwe ontken.

Nog ʼn twisappel vir die verdediging is die tydsgleuf waarin die misdaad gepleeg is en die tyd waaroor die polisie in die borgtogaansoek en in mediaverklaringe gebruik het. Mickayla het getuig die skietery het 20:41 gebeur, maar in die borgtogaansoek is dit tyd van die voorval as 20:30 as aangedui.

Die ander twisappel is die bakkie wat nadat die ballistiese kenners dit ondersoek is, aan die familie teruggegee is.

Robertson het daarop aangedring dat die beskuldigde ook ‘n reg het om die bakkie te ondersoek. Dié aspek is baie belangrik vir die verdediging, het Robertson aangevoer.

Volgens Sebegilwe was die identiteit van die misdadiger onbekend op die tydstip. Die bakkie wat vol skietgate was is aan die eksekuteur van die boedel en familie oorhandig vir herstelwerk. Henderson is eers in September 2024 in hegtenis geneem. Die ondersoekbeampte sê al die wetlike prosesse is gevolg toe die voertuig terugbesorg is.

Adjunkregterpresident Violet Phatsoane lei die verhoor wat voortduur.

LEES OOK: Henderson-verhoor: ‘Skieter het naby bakkie gestaan toe 10 skote afgevuur is’

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article