LUR Fufe Makatong
Fufe Makatong het die afgelope naweek in Kakamas werk vir die ANC gedoen om mense aan te moedig om as kiesers vir die komende verkiesing te registreer. FOTO: Facebook / NC ANC

Makatong bedank as Noord-Kaapse LUR vir paaie en openbare werke

LUR Fufe Makatong
Fufe Makatong het die afgelope naweek in Kakamas werk vir die ANC gedoen om mense aan te moedig om as kiesers vir die komende verkiesing te registreer. FOTO: Facebook / NC ANC

KIMBERLEY – Agt maande nadat die Noord-Kaapse LUR vir gesondheid bedank het, het Fufe Makatong op 31 Julie haar bedanking as die LUR vir paaie en openbare werke in die Noord-Kaap by die premier ingedien.

Dit volg nadat Maruping Lekwene verlede jaar as LUR van gesondheid bedank het en dr. Zamani Saul, sedert 2019 die premier, vir Nontobeko Vilakazi in sy plek aangestel het.

In haar mediaverklaring sê Makatong die besluit was nie maklik nie, maar dis gedoen weens uitdagings rakende die “herorganisering van die departement”.

Volgens ingeligtes sinspeel dit op Saul as premier se nuwe provinsiale strukture, soos die wegneem van staatgeboue-onderhoud en nuwe projekte van haar departement na ander departemente. Voorbeelde sluit in die nuwe studentebehuising by die psigiatriese hospitaal deur die departement van gesondheid en die nuwe skool in El Toro Park in Kimberley wat die departement van onderwys beplan. Die opening van dié skool is vanjaar skielik gestaak omdat die nodige prosesse en konsultasie nie gevolg is nie.

Nog ʼn ingeligte meen die projekte is van die departement van paaie en openbare werke na ander departemente oorgeplaas waar daardie amptenare nie noodwendig oor tegniese, fisiese en infrastruktuur-verwante bekwaamhede beskik nie.

Die premier het ook onlangs sy uitvoerende raadsbesluit om die Sol Plaatje-munisipaliteit in Kimberley onder administrasie te plaas, omgekeer. Dít in die lig van ʼn komende hofaansoek wat die geldigheid van dié besluit sou betwis het.

Toplede skop glo vas

Na bewering skop al hoe meer van die ANC se ses toplede in die provinsiale uitvoerende komitee vas teen die sogenaamde “outokratiese bestuurstyl en eensydige besluitneming”.

Volgens Makatong rus haar besluit op kwessies dat die herorganisering van haar departement “sonder die nodige konsultasie en kommunikasie gebeur het, wat ‘n negatiewe impak op werknemers se moraal en produktiwiteit gehad het.”

Ondanks haar bedanking is sy “trots op prestasies tydens haar ampstermyn, insluitend ‘n infrastruktuurprogram van meer as R2,3 miljard, die uitbreiding van Operation Vala Zonke-projek en die bekendstelling van ‘n nuwe geelvloot ter waarde van R98 miljoen om padinstandhouding te verbeter.”

LEES OOK: Northern Cape launches R98 million road blitz to restore Kimberley’s pride

Sy sê die departement gaan sy teikens vir die uitgebreide openbare werke-program (EPWP) vir die eerste kwartaal van 2026-’27 met 136% oorskry.

In haar verklaring bedank sy die ANC aan wie “ek diep verskuldig is nadat hulle my ontplooi het om die mense te dien”, asook die departementshoof, uitvoerende bestuurspan en amptenare. Sy bedank vakbonde, munisipaliteite, kontrakteurs, konsultante, gemeenskapsorganisasies en Noord-Kapenaars.

Opvallend is dat sy nie die premier en die provinsiale uitvoerende gesag bedank nie.

‘Bedanking nie aanvaar nie’

Die Kantoor van die Premier sê hulle neem kennis van die bedanking, en dat verskeie prosesse gevolg moet word voordat hulle kommentaar lewer.

Deshi Nxanga, ANC provinsiale sekretaris, sê in sy verklaring dat hulle nie die bedanking aanvaar nie.

“Ons sal dringend met Makatong vergader om probleme uit te stryk en ons wil eenheid in die ANC beskerm en die regering se stabiliteit verseker. Ons sal ‘n oplossing vind deur opregte dialoog, eerder as deur openbare konfrontasie. Mense word versoek om nie te spekuleer terwyl ons beraadslaag nie.”

Isak Fritz, DA-LPW en provinsiale leier, sê die gissings oor “wie as watter LUR dien en wie om watter rede bedank het”, lei die aandag van skoon regering en noodsaaklike dienslewering af.

“Die Noord-Kaap sit met talle uitdagings, waaronder ‘n provinsiale padnetwerk wat toenemend in slaggate verander en provinsiale infrastruktuurbates wat deur misdadigers gestroop word. Ons gemeenskappe verdien leiers wat onverdeelde aandag aan dienslewering skenk en nie deur politieke speletjies besig gehou word nie,” sê Fritz.

Verskeie kwessies na Valke verwys

Hoewel die departement van paaie en openbare werke vir die 2024-‘25-boekjaar ‘n ongekwalifiseerde oudit met bevindings ontvang het – ‘n verbetering op die vorige jaar, skets die Ouditeur-Generaal (OG) se verslag ‘n prentjie van ernstige finansiële en administratiewe uitdagings.

Die departement had krediteure van meer as R1,1 miljard wat nie binne die vereiste 30-dae betalingstermyn betaal is nie.

Ook het die OG verskeie kwessies geïdentifiseer wat na die spesiale ondersoekeenheid (SIU) en die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoek (Valke) verwys is. Dit sluit in die R38 miljoen verlies weens ongeldige eise op die MR938-padprojek (Mmamatwan-pad) tussen Kathu en Hotazel. Daar was ʼn verlies van R10,8 miljoen weens oorbetalings vir werk wat nie gelewer is nie. Daarbenewens het R8,7 miljoen verlore gegaan weens swak vakmanskap en ‘n gebrek aan toesig by die psigiatriese hospitaal in Kimberley.

Effektiewe stappe is nie gedoen om onreëlmatige uitgawes te voorkom nie. Kontrakte is toegeken sonder drie kwotasies, tenderkomitees was verkeerd saamgestel en kontrakte is aan bieërs gegee wat nie die hoogste punte behaal het nie.

Die OG het bevind die rekenpligtige beampte het nie sy oorsigrol nagekom om behoorlike interne kontroles te verseker nie, wat gelei het tot herhaalde foute in die finansiële state en ‘n agteruitgang in wetlike nakoming.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article