Die Grootvlei Maximum Correctional Centre waar die werknemers tot 30 Junie gewerk het.
Die Grootvlei Maximum Correctional Centre waar die werknemers tot 30 Junie gewerk het. FOTO: Teboho Setena

Gesinne in geldnood nadat G4S-hofsaak reeds 3 maande sloer

Die Grootvlei Maximum Correctional Centre waar die werknemers tot 30 Junie gewerk het.
Die Grootvlei Maximum Correctional Centre waar die werknemers tot 30 Junie gewerk het. FOTO: Teboho Setena

BLOEMFONTEIN – ‘n Geskil tussen voormalige werknemers van G4S en die Departement Korrektiewe Dienste het reeds daartoe gely dat 500 mense en hul gesinne sedert 1 Julie sonder salarisse en diensvoordele moet oorleef.

Meer as 500 werkers word geraak deur die oorname van die Grootvlei-gevangenis wat sedert 1 Julie weer deur die DKD bestuur word. Die terugname volg op ‘n 25 jaar-lange kontrak waarvolgens die veiligheidsmaatskappy G4S in samewerking met die departement die gevangenis bestuur het. Die kontrak het op 30 Junie tot ‘n einde gekom en die werknemers moes die volgende dag uitvind dat hulle nie hul poste gaan terugkry soos wat oorgeengekom is nie.

LEES OOK: Correctional Department locks out 500 union workers at Mangaung prison.

Solidariteit het namens sy lede aansoek gedoen vir ‘n dringende hofbevel by die Arbeidshof om die hof te dwing om die oorspronklike artikel 197-bevel af te dwing wat sê dat die werknemers met volle pakkette weer in diens geneem moet word.

Die hof het in sy uitspraak op 29 September Solidariteit se dringende aansoek van die hand gewys en ‘n kostebevel teen Solidariteit toegestaan.

Theunis van Staden van Solidariteit sê egter dit is belangrik om te verstaan wat die hof beslis het. “Die hof het nie die oorspronklike artikel 197-bevel van 30 April tersyde gestel nie. Die hof het ook nie beslis dat artikel 197 nie van toepassing is of dat daar geen regte vir lede ingevolge daardie bevel is nie.”

Hy verduidelik: “Die hof het bevind dat die oorspronklike bevel opgeskort is omdat DKD se aansoek om verlof tot appèl teen die weiering van sy kondonasie-aansoek nog hangend is. Volgens die hof is dit daarom op hierdie stadium voortydig om die bevel af te dwing.”

Van Staaden sê die hof het die aansoek nie dringend genoeg bevind nie. “Die hof het bevind dat die verlies aan salaris en diensvoordele, hoewel dit werklike en ernstige benadeling veroorsaak, later grootliks deur retrospektiewe vergoeding herstel kan word. Ons is teleurgesteld dat die hof die ernstige mediese, finansiële en persoonlike omstandighede van ons lede op hierdie wyse beoordeel het.”

Hy sê die uitspraak is ontstellend omdat die kern van die saak nie bloot ‘n tegniese geskil oor hofprosedure is nie. “Agter die hofstukke is daar sowat 200 gesinne wat sedert 1 Julie nie ‘n inkomste het nie.” Van Staaden sê die betrokke werknemers sit met onmiddelike behoeftes aan kos, behuising, medikasie, mediese dekking, elektrisiteit en vervoer.

LEES OOK: POPCRU takes high-stakes dispute back to court to secure 500 jobs at prison.

Hy sê mense word uit woonplekke gesit, sommige het hul huise verloor, polisse het verval, mense het hul mediese dekking verloor en voertuie is deur banke teruggeneem weens wanbetaling.

“Die mense is nie bloot ongeduldig oor ‘n regsproses nie, dit is middelklasgesinne wat skielik ernstige geldnoot ervaar. Die hofstukke het juis hierdie maatskaplike en finansiële nood as die grondslag van dringendheid uiteengesit. Die lede se eie woorde wys hoe daardie nood daagliks verdiep.”

Intussen help organisasies soos Solidariteit Helpende Hand met kospakkies onder huishoudings.

Van Staaden sê Solidariteit sal vandeesweek weer met sy regspan vergader.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article