MAHIKENG – Die veiligheid en opvoedkundige behoeftes van leerlinge by die Swartruggens Gekombineerde Skool moet onmiddellik deur die provinsiale departement van onderwys verbeter word, volgens ‘n bevel van die Hooggeregshof in Mahikeng in Noordwes.
Dié uitspraak kom te midde van ‘n voortslepende dispuut oor die plasing van 78 leerlinge by die skool.
Dit spruit uit ‘n besluit deur die Noordwes se departement van onderwys, gedurende die Desember 2025-vakansie, om 78 Engelsmedium-leerders in graad 8 tot graad 10 by dié skool te plaas.
Aangesien die skool ‘n enkelmedium Afrikaanse instelling is, het sy skoolbeheerliggaam die hof op ‘n dringende basis genader om die besluit te hersien.
Die skoolbeheerliggaam het aangevoer die skool het nie die nodige infrastruktuur of hulpbronne beskikbaar om die bykomende leerders te huisves sonder om die gehalte van onderwys en die veiligheid van alle leerlinge in gevaar te stel nie.
‘n Kritieke kwelpunt was ‘n verslag deur ‘n professionele ingenieur, dr. S.J. Coetzee, wat ernstige strukturele gebreke by die skool geïdentifiseer het. Volgens die verslag kan die skool se houtsaal, waar die 78 nuwe leerders aanvanklik gehuisves is, enige tyd in duie stort.
Waarnemende regter Carel Wessels het in sy uitspraak op 8 April bevind die teenwoordigheid van leerders in ‘n struktuur wat enige tyd ineen kan stort, is ‘n “onmiddellike bron van kommer” en dat hul veiligheid nie in gedrang mag wees nie.
Hoewel die skool gevra het dat die leerders na ‘n intermediêre skool oorgeplaas word, het die hof beslis dat dit in die leerlinge se beste belang is om vir eers by die Swartruggens Gekombineerde Skool te bly om verdere emosionele en akademiese ontwrigting te voorkom.
Departement wetlik verplig om sake te verbeter
Die hof het ‘n streng “strukturele interdik” teen die departement uitgevaardig, wat hulle wetlik verplig om die volgende te doen:
- binne sewe dae moet ‘n inspeksie van die skool se infrastruktuur en hulpbronne gedoen word;
- die departement moet binne 14 dae daarna ‘n plan indien om dringende tekorte, soos elektriese kapasiteit, sanitasie en klaskamerruimte, op te los;
- alle dringende veiligheidsgebreke moet binne 30 dae herstel word, en die volledige herstel van die skoolgeboue volgens die ingenieur se aanbevelings moet binne ses maande voltooi wees; en
- die departement moet verseker dat voldoende meubels, leermateriaal en Engelsmedium-onderwysers beskikbaar is sonder om ‘n finansiële las op die skool te plaas.
Die hof sal deurlopende toesig oor die implementering van hierdie bevel hou, en die departement moet gereeld vorderingsverslae onder eed by die hof indien.
Deel B van die aansoek, die finale hersiening van die departement se besluit om die leerders te plaas, sal op ‘n latere datum aangehoor word. Intussen is die koste van die dringende aansoek voorbehou tot die afhandeling van die hoofsaak.
LEES OOK: As regering aanhou om hede te befonds, kan dit toekoms vernietig


