Misdaadbrokkies | Crime Snippets
Misdaadbrokkies | Crime Snippets

Misdaadbrokkies | Crime Snippets


Weslander verskaf weekliks ‘n kort blik op die vorige week se misdaadgebeure in sy verspreidingsgebied met behulp van kapt. Tania Helfrich, distrikswoordvoerder van die Weskus-polisie.

Poging tot moord: ‘n 42-jarige vrou het Saterdagaand (3 Oktober) saam met ‘n getuie en die verdagte in Tortelduifstraat, Moorreesburg, gekuier. Die verdagte het die klaer na bewering begin vloek en sy het gevra dat hy moet ophou. Sy het opgestaan om te loop toe hy haar met ‘n mes aanval. Sy het drie meswonde aan haar kop, twee aan haar gesig, twee aan haar rug en ‘n meswond aan haar arm opgedoen. Die klaer het om hulp gesoek, maar die verdagte het instussen weggehardloop en is steeds soek.

Sakeroof: Saterdagoggend (3 Oktober) omstreeks 10:40 het twee broers, Earl Baron (32) en Houston Baron (23), na bewering ‘n spazawinkel in Tulpstraat, Noordhoek, binnegegaan en ‘n 31-jarige Ethiopiese winkelier daarvan beskuldig dat hy hulle nie die regte kleingeld gegee het nie. Die een broer het glo die winkelier met ‘n klip gedreig terwyl die ander een R500 uit die kasregister gehaal het. Hulle het hierna weggehardloop. Die broers is hierna in hegtenis geneem en het Maandag 5 Oktober in die Laaiplek-landdroshof in Velddrif verskyn.

Diefstal: Bernard Williams (41) en Mariska Bester (33) is vasgetrek nadat hulle na bewering Saterdagaand (3 Oktober) medisyne, bier, ‘n vrouehorlosie, kruideniersware en elektriese toebehore uit ‘n woonwa in ‘n woonwapark in Yzerfontein gesteel het. ‘n 35-jarige vrou het nadat sy gemerk het dat van haar goedere gesteel is, ondersoek ingestel en dit tussen die bosse gekry. Williams en Bester is in hegtenis geneem en het op Maandag 5 Oktober in die Malmesbury-hof verskyn.

Moord: ‘n 16-jarige jong man van Darling is Sondagoggend (4 Oktober) in die Swartland-hospitaal in Malmesbury oorlede nadat hy en vyf van sy vriende tussen die ouderdom van 15-17 in Elfdelaan in Darling deur ‘n ander groep jonges aangerand is. Die omstandighede rakende die moord en aanranding met die doel om ernstig te beseer, word ondersoek. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Poging tot moord: Die omstandighede rondom die gebeure waarin ‘n 26-jarige man op Sondagoggend (5 Oktober) omstreeks 02:10 in Glimmerstraat, Ongegund, met ‘n meswond aan sy nek gevind is, word deur die Vredenburg-polisie ondersoek.

Moord: Olwethu Molisi (32) se lewelose liggaam is Sondagoggend (5 Oktober) omstreeks 04:50 in Ongegund gevind. Hy het ook ‘n meswond aan sy nek gehad en omstanders het die verdagte, Avile Kente (30), aan die polisie uitgewys waarna hy in hegtenis geneem is. Hy het Dinsdag 6 Oktober in die Vredenburg-landdroshof verskyn.

Sakeroof: Vier mans met bedekte gesigte, twee van hulle met vuurwapens gewapen, het Vrydagaand (3 Oktober) om 20:00 ‘n spazawinkel in Kerkstraat in Abbotsdale, Malmesbury, binnegegaan. Een van die rowers het pepersproei gespuit waarop van die werkers op die grond gaan lê het. Een werker het kans gekry om uit die winkel te hardloop. Met sy terugkeer later het hy gevind dat sy selfoon, kontant en sigarette deur die rowers gebuit is.

Moord: Elrenzo Erasmus (18) het homself Sondagoggend 4 Oktober aan die Moorreesburg- polisie oorgegee omdat hy Emtihaaz Nero (29) met ‘n mes in die nek gesteek het. Nero het Erasmus glo met ‘n sambok geslaan waarop Erasmus Nero met sy okapi-mes in die nek gesteek het om homself te verdedig. Erasmus het dié mes aan die polisie oorhandig, en Maandag in die hof verskyn.

LEES OOK: Misdaadbrokkies

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 15 October 2026
    Weslander E-Edition – 15 October 2026

Gift this article