Weslander verskaf weekliks ‘n kort blik op die vorige week se misdaadgebeure in sy verspreidingsgebied met behulp van kapt. Tania Helfrich, distrikswoordvoerder van die Weskus polisie.

*◘ Jason Syster (27) van die Sederhagenplaas in Vredendal is Saterdagoggend 9 Mei omstreeks 00:45 in ‘n vermoedelike tref-en-trap-ongeluk op die R363 Vredendalpad oorlede. Die polisie ondersoek ‘n saak van strafbare manslag.

*◘ Die omstandighede waarin Coenraad Beukes (28) van Kaapstad die afgelope Saterdagoggend 9 Mei om 04:45 in Vanrhynsdorp in ‘n ongeluk gesterf het, word ondersoek. Die ongeluk het op die Gifberg grondpad plaasgevind. Twee passasiers is ook ernstig beseer. ‘n Saak van strafbare manslag word deur die polisie ondersoek.

*◘ Isak Davids (65) is Saterdagoggend 9 Mei omstreeks 08:30 in ‘n noodlottige ongeluk oorlede. Hy en ‘n medewerker was besig om ‘n land op ‘n plaas in die Porterville omgewing te spuit. Na bewering het Davids agter die tenk gestaan en sy kollega, wat nie geweet het waar hy staan nie, het hom per ongeluk omgery.

*◘’n 16 jarige seun van Porterville is Donderdagoggend (7 Mei) aangekeer nadat hy weer skade by ‘n huis in Marthinusstraat aangerig en hout by ‘n ander huis in dieselfde straat gesteel het. Met deursoeking is ‘n mes in sy kous gevind. Sy hofverskyning het reeds verlede Vrydag plaasgevind.

*◘’n 16 jarige seun van Malmesbury is ook verlede Donderdagoggend (7 Mei) vasgetrek met goedere wat hy by ‘n ouetehuis in die dorp gesteel het. Sy hofverskyning het verlede Vrydag (8 Mei) plaasgevind. ‘n Saak van diefstal word ondersoek.*◘Ongeveer R32 000 se diesel is verlede Donderdagoggend (7 Mei) van ‘n plaas in die Clanwilliam omgewing gesteel. Die polisie ondersoek ‘n saak van diefstal.

*◘ In Klawer is Johannes Vaaltyn (61) aangekeer nadat hy ‘n polisiebeampte se klere geskeur het. Die polisie was besig om ‘n perseel te deursoek toe Vaaltyn op die lid afgestorm en sy klere beskadig het. Sy hofverskyning was op Maandag 11 Mei.

*◘Yandiswa Makhubalo (41) van Clanwilliam is Sondagmiddag 10 Mei in die hospitaal oorlede. Sy het beserings aan haar kop gehad en haar oë was blou. ‘n Moordsaak word deur die polisie ondersoek.

*◘’n 40 jarige man van Malmesbury is Vrydagaand 8 Mei in Kalbaskraal in sy linkerbeen gewond. Die klaer het saam met ander om ‘n vuur by ‘n huis in Cambridgestraat gesit toe twee mans, geklee in swart en met hul gesigte gedeeltelik bedek, verby die huis geloop en op die klaer geskiet het.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 14 May 2026
    Weslander E-Edition – 14 May 2026

Gift this article