YZERFONTEIN – ‘n Bejaarde inwoner van die Jakkalsfontein-natuurreservaat in die omgewing is laat Sondagaand (4 Oktober) deur vier mans in haar huis oorrompel en beroof.
Volgens ‘n verklaring deur die plaaslike polisie het die rowers, wie se gesigte bedek was, deur middel van ‘n oop skuifdeur en venster toegang tot die binnekant van dié 88-jarige vrou se huis verkry en haar met ‘n stuk lap vasgebind. Volgens die polisie is die klaer met ‘n mes gedreig terwyl hulle geld by haar geëis het.
Die klaer, wat ten tyde van die rooftog televisie gekyk het, het kort ná die rooftog daarin geslaag om die bure vir hulp te ontbied. Geen ernstige beserings is aangemeld nie, behalwe vir ‘n paar merke aan haar gesig en haar mond, het kapt. Tania Helfrich, die Weskus-distrik se polisiewoordvoerder, bevestig.
Altesaam R50 000 se geld en juwele, wat glo R2,05 miljoen werd is, is deur die rowers gebuit.
Beamptes van die Darling-polisiekantoor, in samewerking met ‘n spoorsnyspan, Darling Landelike Veiligheid, die Yzerfontein-buurtwag en private veiligheidsmaatskappye het ‘n verdagte, wat aanvanklik met die rooftog verbind is, in ‘n voertuig wat vermoedelik gebruik sou word om die verdagtes op te laai en te vlug, geïdentifiseer en aangekeer.
Volgens die Darling-polisiekantoor se kapt. JJ Otto is die Uber-bestuurder van Burundi kort ná die inbraak in hegtenis geneem omdat hy nie die nodige dokumente by hom gehad het nie en dus ‘n onwettige immigrant is. Hoewel die bestuurder in dié stadium nie in verband met die rooftog aangehou word nie, ondersoek die polisie steeds die moontlikheid dat die Uber as die wegkomvoertuig gebruik sou word.
Spore het weens die rowwe terrein verlore gegaan en die soektog na die vier verdagtes, wat te voet gevlug het, is Maandagoggend om 04:30 gestaak, het die buurtwag bevestig.
Die spoorsnyspan is wel nog besig om leidrade op te volg, lui hul boodskap wat onder inwoners in Yzerfontein gesirkuleer is.
Niemand is intussen al aangekeer nie, bevestig Otto.
LEES OOK: Bejaardes verdien hul ‘genadetyd’




