Weslander verskaf weekliks ‘n kort blik op die vorige week se misdaadgebeure in sy verspreidingsgebied met behulp van kapt. Tania Helfrich, distrikswoord- voerder van die Weskus-polisie.
Hond byt 15 skape op plaas: Vier skape is tussen Vrydag en Saterdag, 11-12 September, deur ‘n hond op ‘n plaas in die Vanrhynsdorp-omgewing doodgebyt en nog 11 is beseer op ‘n plaas in dieselfde omgewing. Die polisie ondersoek die voorval en die omstandighede waaronder die hond die skape aangeval het.
Vragmotorbestuurder in hof ná botsing: Caleb Moyana (35) het Maandag in die hof verskyn op ‘n aanklag van roekelose en nalatige bestuur nadat hy verlede Vrydagoggend (11 September) na bewering nie by ‘n stopteken stilgehou het nie. Sy vragmotor, wat met vrugte en groente van Kaapstad na Namibië onderweg was, het op die R364 tussen Graafwater en Clanwilliam met ‘n bakkie gebots en die bakkie het op sy sy beland. Die insittendes van die bakkie is vasgekeer en het ernstige beserings opgedoen. Die Clanwilliam-polisie ondersoek die botsing.
Vrou sterf in brand in Vredendal: Nothando Sokhayo (51) het Saterdagaand (12 September) omstreeks 20:15 in haar hokkie in Oliver Tambostraat doodgebrand. Die polisie ondersoek die brand en die omstandighede rondom Sokhayo se dood.
Man sterf ná botsing in Vredenburg: Johan Abrahams (38) was verlede Vrydagaand (11 September) in ‘n botsing op die hoek van Voortrekkerstraat en die Saldanhapad betrokke. Hy is later dieselfde aand in die hospitaal aan sy beserings dood. Die polisie ondersoek ‘n saak van strafbare manslag.
Winkelier beroof: ‘n 36-jarige man van Ethiopië is Saterdagaand (12 September) tussen 17:00 en 18:00 in Citrusdal deur drie mans in sy winkel in Riverview gedreig. Die mans het geld geëis en die klaer het uit vrees R1 200 aan hulle oorhandig. Dieselfde aand het twee mans omstreeks 18:00 in ‘n winkel in Daffodilstraat, Riverview, ‘n 34-jarige man van Ethiopië met ‘n vuurwapen gedreig. Die verdagtes het beskermingsgeld geëis en die klaer het sowat R2 500 oorhandig voordat hulle gevlug het. Die polisie ondersoek die twee sake van sakeroof in die gebied.
Gewapende rowers slaan in Vredenburg toe: Vyf mans het Saterdagaand (12 September) omstreeks 19:30 ‘n winkel in Ongegund beroof toe die 49-jarige klaer die onderneming gesluit het. Die mans se gesigte was bedek en een was met ‘n vuurwapen bewapen. Hulle het die klaer beveel om op die grond te lê en met ‘n televisiestel, sigarette ter waarde van R1 300, R8 000 kontant en twee selfone gevlug. Die polisie ondersoek ‘n saak van sakeroof.
Man tuis deur gewapende mans beroof: ‘n 39-jarige man is Saterdagaand (12 September) omstreeks 19:30 in ‘n woning in Ongegund, Vredenburg, deur twee gewapende mans beroof. Hy het wakker geword nadat daar aan die deur geklop is. Hy het die eienaar se dogter hoor praat en sy het hom na bewering gevra om die deur oop te maak. Die twee mans het hom daarna met vuurwapens gedreig en sy selfoon gegryp. Die polisie ondersoek ‘n saak van huisroof.
Drie skote op man in Louwville: ‘n 35-jarige man is Saterdagaand (12 September) omstreeks 22:20 in sy kamer in Maraboestraat, Louwville, geteiken toe drie skote op hom afgevuur is. Hy het die aanval oorleef. Die polisie ondersoek ‘n saak van poging tot moord.
Man in Citrusdal-winkel geskiet: ‘n 28-jarige man ontvang mediese behandeling nadat hy Maandagaand (14 September) in ‘n winkel in Riverview geskiet is. Die omstandighede rondom die skietery is nog onbekend. Die polisie ondersoek ‘n saak van poging tot moord.
Twee mans in Vredenburg doodgeskiet: Twee mans is Sondagoggend (12 September) omstreeks 01:22 doodgeskiet nadat ‘n onbekende persoon op mense in Kooitjieskloofstraat geskiet het. Die oorledenes is Sikhonathi Ngqayimbana (38) en Simon Mabasa (27). Twee ander mans, onderskeidelik 32 en 20 jaar oud, is gewond en ontvang mediese behande- ling. Die polisie ondersoek ‘n dubbele moord en twee sake van poging tot moord. Later die oggend, omstreeks 07:00, is Lindo Bonani (25) se lyk in Ongegund gevind. Bonani is doodgeskiet. Die polisie ondersoek ook dié moordsaak.



