CITRUSDAL – Die Weskus-netbalfederasie se halfeindronde is die afgelope Saterdag (12 September) by Laerskool Olifantsvallei in Citrusdal beslis, met verskeie spannende kragmetings wat die finaliste vir komende Saterdag 19 September se groot eindstryde bepaal het.
In die Super-liga het Malmesbury A ‘n naelskraapse 51-50-oorwinning oor Citrusdal A behaal. Malmesbury B het in die A-liga met 43-39 teen Langebaan B geseëvier.
Abbotsdale het Lutzville in die B-liga met 47-45 geklop, terwyl Swartland die Young Spurs met 42-23 uitgeskakel het.
In die C-liga het Velddrif die span van Koringaartjie met 28-11 geklop en Hopefield A het Malmesbury C met 35-16 verslaan. Hopefield B het in die D-liga met 18-7 teen Dream Team gewen.
In die mansliga het Vredenburg Whales met 53-24 teen die Moorreesburg Tiere geseëvier.
Die volgende wedstryde is die eindstryde dié Saterdag by die Hoërskool Swartland in Malmesbury.
Die Super-liga-eindstryd is tussen Langebaan A en Malmesbury A, terwyl Vredenburg A en Malmesbury B in die A-liga om die titel meeding.In die B-liga pak Abbotsdale die span van Swartland, met Velddrif A teen Hopefield A in die C-liga. Die D-liga-eindronde is tussen Hopefield B en Goedverwacht Jags.
In die mansliga ontmoet Whales en Vredenburg Mans mekaar.
Die verhoog is dus gereed vir Saterdag se top-netbal wanneer die Weskus-netbalfederasie se kampioene in Malmesbury gekroon sal word.




