Curtley Jeffries van die Vredenburg Rugbyklub met die bal en Nicolus de Beer (links) daar vir ondersteuning. Foto: Ivanka Engels

Burg Boys weer in Top-12

Curtley Jeffries van die Vredenburg Rugbyklub met die bal en Nicolus de Beer (links) daar vir ondersteuning. Foto: Ivanka Engels

Vredenburg se Burg Boys het weer eens sy krag getoon toe dié span as naaswenners ná Saldanha- baai in die afgelope naweek se Boland Grootuitdaagreeks geëindig het.

Wat eers onmoontlik gelyk het, het later moontlik geraak omdat die spelers en spanbestuur geglo het dat hulle die vermoë het om bo uit te kom.

Vredenburg moes sy laaste vyf wedstryde wen om eerste of tweede te eindig.

Maklik was dit nie vir die Burg Boys nie, want drie van die vyf wedstryde was weg van die huis af en baie moeilik.

Op 22 Augustus het hulle oor die eerste hekkie gespring toe hulle Saldanhabaai op Vredenburg naelskraap met 24-20 klop.

Hierna het hulle die onvoorspelbare Velddrif in sy agterplaas aangedurf. Dinge het egter vir die Burg Boys skeef geloop toe hulle hul teen die tuisspan vasgeloop het en met 27-31 vasgeval het.

Met ‘n sewepunt-voorsprong bo die Albatrosse was hulle steeds op koers.

Teen Saldanha Tigers het hulle op Diazville harde bene gekou, maar vasgebyt tot die einde om uiteindelik met 20-17 te wen.

Wraak teen albatrosse

Toe kom die grote op 5 September teen die Albatrosse op Vredenburg, Hoewel dit wou lyk asof hulle weer gaan vasval, het die span karakter getoon en merkwaardig uitgestyg toe hulle die Albatrosse se wedloop finaal beëindig het.

Hoewel die Albatrosse hard terug baklei het, was hulle nie opgewasse nie en Vredenburg het hulle met 49-34 gelooi.

Nadat die Burg Boys die Albatrosse finaal uit die wedsloop geskop het, het dié span seker gemaak hulle kan nie meer verby gesteek word nie.

Met dié wete het hulle na die Onderbaai gereis en die manne van Steenberg’s Cove vir oulaas in sy agterplaas gepak, en die seisoen met ‘n oortuigende oorwinning van 58-19 afgesluit.

Top-12 in oktober

Met hierdie oorwinning het die Burg Boys vir ‘n tweede agtereenvolgende jaar vir die Sanlam Boland-Top-12 gekwalifiseer.

Die Burg Boys het nie net getoon dat hulle reg is vir die uitspeelwedstryde nie, maar ook getoon dat hy nou meer volwasse is en beslis hierdie seisoen beter gaan vaar as laasjaar, toe dié span in die groepwedstryde uitgeval het.

Met die Sanlam Boland-Top-12 wat vir Dinsdag 6 Oktober geskeduleer is, voorspel die kompetisie weer eens opwin- dende rugby oor die laaste sewe weke en ‘n rugbygees soos net Bolanders dit ken.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 17 September 2026
    Weslander E-Edition – 17 September 2026

Gift this article