‘n Haarkapper van Vredenburg, George Albert Biggs (70), beter bekend as “Mr. Biggs”, is voorverlede Vrydag (29 Mei) oorlede.
Biggs het in 1980 ‘n haarkappery aan die Weskus begin. Die eerste perseel was by die destydse Bak en Braai en het kort daarna na Kootjieskloofstraat in Louwville verskuif.
Volgens sy seun, Jermaine Biggs, sal sy pa onthou word as ‘n sterk leier met ‘n groot liefde vir regverdigheid en dissipline.
“Hy was ‘n persoon met baie karakterfasette wat nooit te trots of onwillig was om ‘n grap te verduur of daaraan deel te neem nie. Sy liefde vir die Weskus-gemeenskap en toewyding tot die vooruitgang van die gemeenskap is welbekend oor die groter Weskus-gebied. Mnr. Biggs was altyd net Mnr. Biggs en jy het te alle tye besef waar jy met hom staan. Pligsgetrouheid, regverdigheid en die vermoë om met nederige geleenthede te bestaan, saam met opregte medemenslikheid, was die waardes naaste aan sy hart,” vertel hy.
Jermaine sê sy pa was op sy manier instrumenteel in die bevrydingstryd van gemeenskappe in die vroeë 80’s, waar die haarkappery die besprekingsvloer vir bevrydings- en politieke gesprekke was.
“ ’n Haarsnit was nie net ‘n verfraaiing van die voorkoms nie, maar ook ‘n opvoeding in ons bestaan en menswaardigheid. Sy toewyding kan nie aan een oomblik van onselfsugtigheid toegeskryf word nie, maar aan ‘n leeftyd van diens aan sy gemeenskap.”
Die familie hoop die Weskus-gemeenskap besef dat hulle, net soos Biggs, ‘n groot liefde vir almal het. “Ons sal voortgaan om die besprekingsvloer oop te hou vir die volgende generasie dromers, denkers en bouers van die toekoms.”





