Daar is iets besig om op die Weskus te gebeur, iets wat baie inwoners aanvoel, maar nie kan verwoord nie. Dit is asof ‘n onsigbare hand stadig oor die streek beweeg en alles aanraak wat nog oop, natuurlik en ongerep is.
Waar daar eens fynbos, landerye en oop ruimtes was, verskyn planne vir residensiële ontwikkelings, nywerheidsaanlegte, sonplase–projekte van miljarde rande.
Elke voorstel word op sy eie beoordeel, aangebied as vooruitgang en beloof groei en ekonomiese geleenthede.
Min mense vra egter hoe die prentjie op die ou end gaan lyk wanneer al hierdie individuele projekte bymekaar getel word.
Die Weskus is nie bloot grond wat op ontwikkeling wag nie. Dit is ‘n landskap wat oor geslagte gevorm is, waar mense hul kinders grootmaak, vissers hul brood verdien, veldblomme elke jaar toeriste lok en die eenvoud van die omgewing deel van die streek se identiteit geword het.
Inwoners se kommer word as “weertand teen vooruitgang” afgemaak.
Pleidooie om stadiger te beweeg, beter te beplan en alternatiewe te oorweeg, word soos lastige vlieë weggeklap wat die groot ontwikkelingsdroom versteur.
Natuurlik het die Weskus belegging en werksgeleenthede nodig. Niemand ontken dit nie, maar ontwikkeling sonder visie is nie vooruitgang nie, net geldgierigheid.
Die vraag wat gestel word, is eenvoudig: Wat wil ons nalaat vir die kinders wat vandag gebore word? ‘n Weskus waar hulle steeds die oop ruimtes, strande, fynbos en unieke karakter van die streek kan ervaar? Of ‘n plek waar hulle net stories hoor van hoe dit eens hier was?
Sommige dinge kan herstel word. Ander, wanneer dit eers verlore is, is vir altyd weg.





