Die Weskus, bekend vir sy rustigheid, oop ruimtes en gemeenskappe waar mense mekaar nog by die naam ken, voel deesdae asof sy eenvoud al hoe verder wegglip.
In die afgelope weke is Vredenburg, Saldanha en St. Helenabaai deur ‘n ontstellende vlaag van geweld getref. Agter elke misdaadstatistiek is daar ‘n ma wat haar kind begrawe, ‘n eggenoot of eggenote wat alleen agterbly, kinders wat sonder ‘n ouer grootword en geliefdes wie se lewens in ‘n oogwink onherroeplik verander. Daardie pyn strek veel verder as die polisiedossier.
Terselfdertyd verander die Weskus- landskap teen ‘n ongekende tempo. Ontwikkeling is noodsaaklik, maar onoordeelkundige ontwikkeling bedreig die landelike karakter en natuurlike skoonheid wat inwoners koester en besoekers lok. Dit is juis hierdie unieke identiteit wat die Weskus van ander bestemmings onderskei.
Die druk op Weskussers kom van oral. Kospryse bly styg. Skoolgeld, brandstof en die basiese lewenskoste raak al hoe duurder. Gesinne leef onder geweldige finansiële druk. Dit is ook dié druk wat mense kort van draad kan maak; waarom ‘n lewe vir iets so klein soos ‘n sigaret geneem word.
Ons moet waak daarteen dat frustrasie nie in woede omslaan nie.
Gee eerder ‘n asemteug en tel tot vier voordat daar opgetree word. Of wees bereid om iemand ten spyte van twyfel te glo. Nie elke meningsverskil hoef op konflik uit te loop nie.
Ons kan nie al die uitdagings oornag oplos nie. Ons kan nie alleen geweld beëindig of pryse laat daal nie, maar ons kan kies hoe ons mekaar behandel. Ons kan vriendelik bly, selfs wanneer dit moeilik is. Ons kan luister voordat ons oordeel en kalm bly wanneer emosies hoog loop.
Op die ou end is dit dikwels die klein dade van respek, deernis en selfbeheersing wat gemeenskappe bymekaar hou.
Dit is juis dié gees van buurmanskap en omgee, selfs vir vreemdes, wat dié deel van Suid-Afrika se westelike kus ons geliefde Weskus maak.




