Oeps. . . en daar is dit winter innie Weskus


Is julle nog almal orraait daar innie Weskus? Ek hoor die winter het sy kop lelik uitgestiek daar by julle. Kan julle nou sien wat niggie winter doen as julle klomp klakouse die hele somer so kla oor die erge hitte? Jy weet mos dit raak helwarm in die Weskus. So kokend warm dat jy ‘n eier op ‘n kar se bonnet kan bak!

Teen dié tyd weet ons dit al. . . so waarom sit en moan oor die hitte? Druk deur, want voor jy kan sê “sneeu op die Bolandse berge”, dan is die winter hier.

Maar nee, julle wil toe mos sit en klaagliedere sing. En kyk nou daar… Niggie Winter steek toe sommer twee maande voor die tyd kop uit.

Seker maar in ons menslikheid verweef om klaerig oor alles te wees. Wel, met die stortvloed reën wat uitgesak het, is daar darem seker nou een klaaglied minder, want die damme sal spoedig weer vol loop. Ek hoop jy het darem nou al daai winterklere van jou nader getrek en sommer daai ekstra beddegoed ook. Is die kaggelhout al gekoop? En het die eerste ghellieblikke al begin brand? Wel, van een ding is ek doodseker, en dit is dat daar iewers in die Wes-Kaap al ‘n lekker pot sop gemaak is! Julle weet mos, daar kan net ‘n paar wolkies in die lug begin saampak, dan word die sopgoed gereed gekry. Dis nou maar eenmaal ‘n Weskusding. . . einde van die storie.

Ai, die hele skielike winter-opdaagstorie maak my nou sommer nostalgies. Winter is juis nou maar eenmaal my gunsteling seisoen. Dis vir my ‘n seisoen van warm maak wat koud is. Gepraat van warm maak. . . daar is juis niks so mooi en lekker as die herinnering aan daai pot ertjie- of groentesop wat my ma altyd met soveel liefde voorberei het nie.

As kind was daai gewag vir jou bakkie sop altyd die moeite werd. Dit was heilsaamheid op sy beste. Daai sop is stadig op die Aga-stoof laat prut tot my ma geweet het die saak is reg om voorgesit te word.

Jou sop is mooi afgerond met ‘n heerlike sny of twee van die gebakte brood wat of in die Aga-stoof of in die buite-oond gebak is.

Het mense nog buite-oonde? Bestaan die Aga-stoof nog? Sjoe, daai stoof kon vir jou die lekkerste gebakte patats opdis. Daai patats waarvan die stropie so uitloop en amper soos nagereg ná die sop geëet word. En wie onthou nog melksnysels? My ma kon dit perfek voorberei. Sy doen dit nog steeds so af en toe. Destyds as daar iewers ‘n sangaand op ‘n Saterdagaand was, het almal in pousetyd tougestaan vir antie Diena se groentesop en melksnysels. Wonder of die kinders van vandag daardie lekkerte van ‘n bakkie melksnysels ken?

Wintertyd is ook tyd vir grapmaak of stories vertel rondom die ghellieblik of die kaggelvuur. Ek is seker van jullle weet wat ‘n ghellieblik is. My lekkerste kuiers het ek om hierdie unieke vuurmaakmetode ervaar. Dis kraailag tot jou trane loop vir al die staaltjies wat uit jou kinderdae oorvertel word.

Deesdae het die kaggelvuur die plek van die ghellieblik ingeneem. Ons moet mos maar met die verandering van tye saambeweeg en saamleef. En leef die tradisie van spookstories vertel nog voort? Ons kindervoetjies het huis toe genael as daai spookstories klaar vertel is, want niemand wou deur die spook van Kruisfontein gevang word nie!

En as daar nou een iets is wat my laat uitsien na die winter, dan is dit die geneul van die wind as die aand sy lê loop kry. En as die klipharde reën op ‘n sinkdak val, dan is dit vir my soos ‘n pryslied wat deur elke druppel gesing word. En as die reënbuie plek maak vir die jaar se ryp of sneeuneerslae, dan weet jy dis ‘n perd van ‘n ander kleur. Hou jou vier lae klere reg, want klappertand koud gaan jou voorland wees.

As jy ‘n sielsmaat het wat jou deur die winterkoue kan bystaan en warm hou, dan moet jy dankbaar wees. En as hy of sy ‘n paar ekstra rolle het om aan vas te hou, dan moet jy hierdie winter glad nie kla nie. Jy mag maar binneboud of lepel lê. Ek meen maar. . . dis mos nie jou niggie of neef wat langsaan jou lê nie. Maak net seker dat jy daai bakke gortsop en gebakte brood matig hou, want wie het dan nou lus vir ‘n onwelriekende geur wat jou binneboudposisie skade kan berokken?

So, as die winter hierdie jaar so onverwags sy verskyning kom maak, dan hou jy daai lippe van jou styf toe. Hou op kla. Koester al die lekker dinge wat winters uit jou kinderjare so spesiaal gemaak het.

Geniet al daai heerlike winter-lekkertes wat jou ma, pa, vroulief of manlief kan opdis. Gaan sit voor die kaggel of ghellieblik en skaterlag weer ‘n bietjie. Hou saans jou maatjie styf vas in jou arms en wees dankbaar vir alles wat julle het.

Geniet die lekker sopnat winter met kluitjiesop daarby.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 30 April 2026
    Weslander E-Edition – 30 April 2026

Gift this article