Bly hoop en glo, ‘n rubriek deur Andre Smith.

MENING | Engelvriende neem my op ‘n vegetariese reis


Hier waar ek my tans bevind, is ek bevoorreg om die vriendskap van twee dierbare Suid-Afrikaanse vriendinne te geniet.

Die twee van hulle het my omarm toe my behoefte aan vriendskap op sy felste was. Hulle het al die pragtige eiland wat ons tans huis noem, van hoek tot kant verken en was van die eerste dag af gretig om my ook die mooi van die eiland te wys.

Daarvoor is ek baie dankbaar en kinderlik opgewonde. Die drie van ons het ook een ding in gemeen en dit is ons liefde vir lekker kos. Elke kuier word gekenmerk deur heerlike, gesonde disse. Hier is egter die interessante deel van ons vriendskap: Ek is ‘n vleiseter en my twee dierbare vriendinne is vegetariërs. Van dag een af was daar vir my geen ongemak daaroor nie.

Ons is Suid-Afrikaners. Ons weet mos respek vir mekaar se andersheid kom eerste.

Dit is by my twee engelvriende dat ek my eerste happie van ‘n volwaardige vegetariese dis geëet het. Dit was heerlik. Só lekker dat ek nie eens verlang het na ‘n stukkie varktjop wat van die braairooster af sis nie. Toe kom die uitnodiging: daar is ‘n vegetariese fees in een van die spogparke van Zhubei. Kom jy saam? Sonder om twee keer te dink, sê ek ja. My kuiers saam met my twee vegetariërvriendinne is altyd lig, lekker en vol lewe. Voeg nou net ‘n fees daarby en dinge kan mos net nóg lekkerder raak. Ons rit op die bromponies na die fees was prettig en vol afwagting. Langs die pad het ek vir die eerste keer in my lewe twee waterbuffels in ‘n rivier gesien. Ek moes natuurlik foto’s en video’s neem as bewys van nóg ‘n eerste in my lewe.

Die waterbuffel word hier steeds, hoewel minder as vroeër, gebruik om ryslande te ploeg en swaar vragte te vervoer. Dit was ook die laaste vorm van vleis wat ek gesien het voor ons by die vegetariërfees opgedaag het. Die atmosfeer by die fees was elektries. Die vrolike musiek was hemels op die oor en ek moes myself keer om nie my rieldanspassies uit te haal nie. Die kosstalletjies was ‘n fees op hul eie. Ek het die oggend laas ordentlik geëet en was teen laatmiddag rasend honger.Die ry vir vegetariese burgers en skyfies was lank, wat seker beteken die kos was gewild. Ek het geduldig gewag en siedaar, toe sit en smul ek alte lekker aan hierdie nuwigheid. Ek het gehoop die burger-pattie gaan my darem effens herinner aan ‘n Spur-burger en dat die skyfies met daardie bekende sous voorgesit sou word. Maar, dit was glad nie die geval nie.

So, as jy eendag deur vegetariërvriende oorgenooi word vir ‘n partytjie, doen maar eers jou huiswerk. As jy nie kans sien vir die saak nie, pak sommer jou eie mandjie kos.

My vegetariese burger was vullend. Ek dink dis die skyfies wat die moeilikheid veroorsaak het. Daar was grondboontjiebotter op my skyfies! Kan jy dit nou oorvertel? Ek het maar vinnig gesluk en my “die is heerlik”-gesig opgesit. Ek was honger genoeg.

Terwyl ek my burger en skyfies geëet het, het ek my verbeel ek sit by die Spur in die Paarl. My lus vir ‘n bief-pattie en daardie ekstra lekker sous oor die skyfies het vir ‘n oomblik die oorhand gekry.

Met al die vegetariese kos veilig in my kossakkie, het my ingewande egter begin protesteer teen die volksvreemde disse.

Een van die gaste het intussen ontdek ek is ‘n vleiseter en wou my met alle mag die pad na die lig wys. Volgens haar is my liefde vir tjoppies en wors een van die gruwelikste dinge wat ‘n mens kan nastreef.

Hoe meer sy my probeer oortuig van die wonders van groente en neute, hoe groter het my lus vir ‘n skaaptjoppie, wors en braaibroodjie geword.

Ek laat dit maar aan jou verbeelding oor hoe die protesaksie geëindig het.

Dankie, Liezl en Tertia, dat julle my verstaan en respekteer. Dankie dat julle my saamnooi na nuwe eet- en ­lewenservarings. Wat ‘n heerlike reis. Ek gaan nou ‘n vleisie oor die kole gooi, met ‘n gesonde slaaitjie daarby!

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 4 June 2026
    Weslander E-Edition – 4 June 2026

Gift this article