Die Grootuitdaagbeker-kompetisie van die Boland-rugbyunie se Weskusstreek het die afgelope naweek (Saterdag 18 April) die halfpadmerk bereik. Spanne in die derde tot die sesde posisie spook hard om Vredenburg en Saldanhabaai in te haal.
Die punteverskil tussen die topvyf-spanne is 7 en 10 punte.
Vredenburg en Saldanhabaai is steeds onoorwonne op 30 punte. Die Burg Boys het egter ‘n beter puntegemiddelde as Saldanhabaai en is steeds die voorlo- per. Dit woel egter onder die ander vier spanne – Velddrif (derde), Young Hearts van Pella (vierde), Paternoster (vyfde) en St. Helenabaai (sesde).
Young Hearts het ná ‘n klinkende oorwinning van 47-29 teen Velddrif – met die ervare en uitgeslape Reuben Abels weer as hoofafrigter aan die stuur.
St. Helenabaai se Albatrosse Saterdag op die Grafkelder in Pella gepak.
Die Albatrosse het ná hul naelskraapse nederlaag van 17-19 teen Paternoster die Grafkelder besoek en geweet dit gaan nie ‘n maklike taak wees nie. Die wedstryd is in eendeweer en sterk wind gespeel. Hearts het egter nie sy lojale ondersteuners teleurgestel nie en ná goeie spel halftyd met 19-10 gaan rus.
Die Albatrosse was egter nie ver agter nie en kon steeds die verloop van die wedstryd verander, maar het nie reke- ning gehou met die sterk wind nie.
Goeie verdediging deur al twee spanne en die sterk wind het die tweede helfte punteloos en die afrigters ontevrede gelaat. Swak besluitneming met balhantering was nog ‘n faktor wat bygedra het.
Hearts se telling van 19-10 in die eerste helfte was genoeg om hulle teen die Albatrosse te laat seëvier, maar hulle moes hul derde posisie aan Velddrif afstaan.
Abels was glad nie tevrede met sy span se vertoning op die Grafkelder nie en gaan die manne in die komende week gewis op die oefenveld laat les opsê, want die Burg Boys wag vir hulle in Vredenburg.
In Paternoster is die tuisspan deur die Burg Boys met 51-28 geklop. Saldanhabaai het Langebaan met 49-14 gelooi en so seker gemaak dat die Burg Boys in hul sig bly.
Velddrif het die span van die onderbaai, Steenberg’s Cove, met 55-12 geklop en die derde plek ingeneem nadat hulle ‘n week gelede met 47-29 deur Hearts
geklop is. Die span het egter karakter getoon en teruggespring.
Hopefield het ook weer sy asem teruggekry en die nuwelinge Saldanha Tigers met 36-31 in Saldanhabaai geklop, terwyl die negende geplaaste Goedverwacht op sy beurt Piketberg naelskraaps met 32-31 oorwin het.
Hierdie komende naweek beloof weer uitstekende rugby in die Weskus met die ses topspanne wat mekaar pak.
Uitslae:
Young Hearts 19-10 St. Helenabaai; Paternoster 28-51 Vredenburg; Langebaan 14-49 Saldanhabaai; Goedverwacht 32-31 Piketberg; Steenberg’s Cove 12-55 Velddrif; en Saldanha Tigers 31-36 Hopefield.





