Die Sanlam Boland-groot-uitdaagbekerkompetisies in die ses streke nader sy einde. Met drie wedstryde oor kry spanne ‘n laaste kans om te kwalifiseer.
In die Weskusstreek het Saldanhabaai sy voorsprong bo Vredenburg verder verbeter met ‘n 33-23-oorwinning oor Velddrif. As na die huidige stand van sake gekyk word, lyk Vredenburg na die ideale kampioen met Saldanhabaai tweede. Saldanhabaai het ná sy oorwinning oor Velddrif vyf punte ingesamel en is steeds die voorloper met 90 punte.
Dit beteken hy kan alleenlik op 100 punte eindig met bonuspunt- oorwinnings oor Young Hearts en St. Helenabaai, wat nog vier wedstryde oor het, kan op 91 eindig, terwyl Vredenburg met dieselfde getal wedstryde oor op 101 kan eindig. Dit wil sê as Vredenburg en Saldanhabaai bonus- punte behaal, sal Vredenburg eerste eindig en Saldanhabaai tweede. Saldanhabaai voltooi sy ligaverpligtinge op Saterdag 29 Augustus, wat beteken hy sal moet wag tot Vredenburg se laaste wedstryd op 19 September teen Steenberg’s Cove. Rugby is onvoorspelbaar en enigiets kan nog in die volgende drie weke gebeur.
Onoorwonne
In die Breëlangebergstreek kan Robertson eerste eindig as hy al sy oorblywende wedstryde wen, wat sal beteken hy en Villagers is Breëlangeberg-kampioen en naaswenner.
In die Swartland- en Overbergstreke het Wesbank, Safcol en Hawston reeds hul deelname vir die 2026 Sanlam Boland Top-12 bespreek met uitmuntende vertonings. Beide Wesbank en Safcol is steeds onoorwonne in hul streke. Safcol het met ‘n oorwinning van 40-26 die nuwe voorloper in die Overberg geword.
Villagers Worcester en Robertson is die voorlopers in die Breëlangebergstreek en die guns- telinge om te kwalifiseer. Dit is ‘n uitgemaakte saak dat die twee klubs Breëlangeberg se verteenwoordigers gaan wees. Robertson het ‘n beter kans om gekroon te word as die streekkampioen as hy al twee uitstaande wedstryde met bonuspunte afsluit. Op die oomblik is Villagers die voorloper met ‘n vyfpunt-voorsprong, maar Robertson kan hulle verbysteek met ‘n beter punte-gemiddelde.
In die Noordweste-streek is drie spanne kop aan kop met Invincibles die voorloper terwyl Delicious NW en Citrusdal om die tweede posisie veg. Delicious NW se verloor van 23-34 teen die voorloper en Citrusdal se oorwinning van 39-24 oor Vanrhynsdorp Eagles het hulle opgestoot na die tweede posisie. Die laaste twee wedstryde in die streek sal bepaal wie tweede van die twee eindig.

Hupstoot gegee
In die Witsentraalstreek is dit ‘n kop-aan-kop-wedloop tussen Roses United, Newtons, Bella Vista en Hillcrest. Oorwinnings deur Roses en Bella Vista het hul kanse ‘n hupstoot gegee, terwyl Hillcrest se kanse benadeel is. Met nog twee wedstryde oor gaan die vonke spat.
In die Swartland veg Abbotsdale Lillies en Porterville om die tweede posisie. Lillies het Mamre se kanse Saterdag (15 Augustus) finaal beëindig. Lillies en Porterville sal ná Saterdag (22 Augustus) uitvind wat hul kanse is.
Soos voorspel is, stuur die laaste drie weke in die Sanlam Boland Rugbyunie-grootuitdaagbekerkompetisies op ‘n opwindende einde af.




